Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Toustaan

Herrie kry nou die dag ‘n briefie in die pos – na Herrie ses dae opgeoffer het om in toue te gaan staan. Die briefie bevat die goeie nuus dat ‘n sakie nou opgeklaar is. Oor twee van die “opklarings” is Herrie totaal in die duister, maar om weer ses keer in die toue te gaan staan om dié twee sake reg te maak …

Netnou is dit reggemaak maar is daar drie of selfs meer goed dan verkeerd.

Dit laat Herrie nogal dink aan die dae toe hy aan ‘n tikpoel uitgelewer was. Briewe, verslae en voorleggings moes met die hand geskryf word. Dan sit Herrie dit in die tiklêer en vat dit na die tikpoel. Op ‘n dag wil die hooftikster weet of alles wat Herrie daar aandra dringend is.

“Nee,” sê Herrie verbaas. “Dan moet dit met die bodestelsel kom, en met die bodestelsel teruggaan.” Toe begin die nagmerrie. Die tiklêer lê tot ‘n week in die “uit”-mandjie, en na ‘n week of twee kom die getikte briewe terug. Dan maak Herrie die tikfoute reg, en so gaan die lêer mettertyd na die tikpoel. Dit kom mettertyd terug – die brief is oorgetik, die foute is reggemaak, maar nou is daar ander tikfoute. Intussen het ‘n aanmaning al in die pos gekom, op ‘n antwoord wat Herrie dadelik geskryf het.

Maar van toustaan gepraat.

‘n Jong boer stap die Vrystaat-koöperasie in Reitz in, en sien ‘n kennisgewing teen die muur: “Werksgeleentheid: Assistent vir ginekoloog.” Hy gaan verneem by die personeelbeampte.

Nee, dis nie die koöperasie wat self iemand soek nie. Die nota is bloot goedgunstig daar aangebring. Die jong boer vra uit oor die pos, en daar word verduidelik hoe die assistent die vroue-pasiënte vir die ondersoek gereed moet kry.

“Maar ek soek daai werk!” roep die jong boer uit.

“Dan moet jy Bethlehem toe gaan,” sê die personeelbeampte.

“Is dit waar die pos is?” wil die boer weet.

“Nee, die pos is in Durban, maar dis waar die tou van aansoekers nou al trek.”

Herrie het nie geweet werkloosheid is al so ‘n groot probleem nie.

‘n Bekende atletiekafrigter van Stellenbosch wie se seuns self uitstekende atlete was, het by geleentheid met sy gesin naby Durban gaan kampeer. Die eerste dag gee hy vir elk van die seuns ‘n klompie geld om vir hulle iets in die stad te gaan koop. Die oudste, Francois, is eerste terug. Boos – boos smyt hy die geld die bosse in. “Geld beteken hier ook niks, niemand verstaan dan Afrikaans nie.”

Miskien moet die suksesvolle kandidaat vir daai pos in Durban maar soos Herrie se kleinboet jare gelede in Amerika gemaak het waar die Herries kleintyd ‘n jaar gewoon het. Dis makliker om die klein Yanks Afrikaans te leer, as om self daai Engels wat die Amerikaners deur die neus praat onder die knie te kry.

Nog voor die jaar om was, het die speelmaatjies al mooi met die Afrikaans reggekom. By geleentheid hoor Herrie se ma ‘n rumoer buite, en kyk uit. Dis die buurt se kinders, haar middelste vooraan, wat strydlustig die bult afgehardloop kom. Skree kleinboet: “Olôg!” Dan gil die maatjies “ôlôg!” ewe bloeddorstig agterna. So mooi het boet die Amerikaners geleer, tot vandag toe ken hulle nog woorde soos “aardvark,” “aardwolf” en kom amper reg met “koolslaai” wat hulle “coal slaw” noem. Iewers het die lyne gekruis, want nou noem die Amerikaners mielies “corn.” En in plaas van “Saint Nicholas” praat die Yanks nou ook van Father Krismis.

Maar miskien moet iemand nie die mense in Durban Afrikaans leer nie, want dan het die tou by Pofadder getrek en dink net hoe seer sou Herrie se voete dan gewees het.

Herman Toerien