Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Tornado‘s in die Oos-Vrystaat

Tornado’s is skouspelagtig, maar gewoonlik hartseer. Dié keer is die Riemland hard geslaan en verskeie mense het die lewe gelaat, baie is dakloos…

Buitengewone weerstoestande is ‘n kenmerk wanneer die klimaat verander, en met al die wonderlike dinge wat die mens al geleer doen het, is daar ‘n paar goed waaraan die mens maar bitter min of niks kan doen nie. Aardbewings voorspel, en rampe in die atmosfeer onder beheer bring, is twee daarvan.

En dinge verander wél al trek die ontkenners uit volle bors los. Die ys aan die Noordpool het sy kleinste oppervlak vir Junie bereik sedert dit gemeet word, en soos die ys smelt stel dit metaangas vry wat ook ‘n kweekhuisgas is.

In die VSA styg die temperatuur vanjaar, veral in die Suidwestelike dele tot nuwe rekordhoogtes, en bosse wat al eeue gestaan het brand nou af.

Wetenskaplikes van ‘n ongelooflike aantal velde probeer sin maak uit klimaat en klimaatsveranderinge. Sterrekundiges het ‘n veld ontwikkel, bekend as kosmoklimatologie, paleontoloë het die veld klimatopaleontologie, en argeoloë die veld klima-argeologoe ontwikkel. Bioloë span ‘n veld bekend as fenologie in, en let op na trekvoëls wat vroeër by hul bestemmings uitkom omdat die wurmpies vroeër uitbroei, en plante vroeër nektar gee.

Klimaatsveranderinge is nie nuut nie, en vind gereeld oor miljoene jare plaas waar ystye mekaar met warm periodes afwissel, en plekke soos die Sahara waar veewagters eens veetroppe opgepas het en vasgestel is dat groepe mense 7 000 jaar gelede genetiese aanpassings ondergaan het om toleransie te ontwikkel vir die gebruik van suiwelprodukte van beeste.

Die Groenlanders plant aartappels en radyse, na die Vikingkoloniste amper ‘n duisend jaar tevore laas gars kon plant en weens die klein ystydperk van die eiland af padgegee het.

Een van die grootste probleme is dat die klimaatsverandering dikwels met onstabiliteit gepaard gaan, en saam met ysbere wie se habitat krimp, gereeld as rampe die nuus haal.

Vir vyf Bethlehemse leeus het die weer kortstondig vryheid beteken toe ‘n boom hul omheining platgeval het. Of die mense wat hulle so gou gevang het so knap was, en of die triestige weer die wanderlust gedemp het, weet Herrie nie, maar Herrie weet van katvoet loop as ‘n leeu uit sy kamp makeer.

Op Stellenbosch was daar jare gelede ‘n man wat as die vreeslikste bangbroek bekend was. Dié reputasie krap hom so om dat hy en sy gesin Krugerwildtuin toe is, waar hy ‘n oopte uitsoek, en na hy seker gemaak het daar is geen ongediertes in die omtrek nie, gou sy vrou ‘n foto van hom buite die kar laat afneem het. Na die vakansie word vriende oorgenooi om na die skyfies op ‘n skerm te kom kyk.

Toe daai skyfie aan te beurt kom, word dit langer op die skerm gewys om goed in te sink. Maar na ‘n ruk vra een: “Maar Piet, is dit nie ‘n leeu wat daar vlak agter jou lê nie?”

“Waar?”

Die man gaan beduie, en sowaar, toe mooi gekyk word kan ta duidelik uitgemaak word. Maar toe is die gasheer lankal so uit soos ‘n kers.

Herman Toerien