Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Tier in tenk pootjie kaper

Dié mototorkaper van Nijmegen in Nederland was georganiseerd. Kort na hy ‘n motoris met ‘n mes van sy ryding “verlos” het, is die gekaapte motor gevind. Dit het sommer klaar nuwe nommerplate aangehad.

Die fout wat die dief bemaak het was om vir sy nuwe wiele petrol in plaas van diesel in te gooi toe die tier in die tenk skraps begin raak het…

En laat dit van die Nederlanders gesê word, hulle duld nie ‘n kapery nie. Die gebied is dadelik afgesper, en ‘n helikopter ingespan, maar die kaper het meer geluk met die dapper en stapper as met die wiele gehad.

Wat Herrie laat dink aan doerietyd toe dit in Suid-Afrika ‘n vreeslike misdaad was om petrol saam te ry. Na werk gaan ‘n man gou by sy broer se huis aan, op pad huis toe. Maar onderweg sien hy iemand met ‘n oop enijinkap staan. Regte barmhartige Samaritaan hou hy stil, en vra wat fout is. Maar die ongelukkige motoris weet nie, sy kar het net gaan staan.

Dit neem die Samaritaan nie lank nie om agter die kap van die byl te kom. “Jou petrol het opgeraak. Gelukkig het ek ‘n kannetjie in die kar, want ek wil netnou gras sny.” Hy haal sy kannetjie uit, en begin vir die gestrande motoris die kosbare voggies ingooi, maar dié haal ewe ‘n boekie uit, en begin skryf.

“En nou.”

“Ek is ‘n under cover spietkop, en ek skryf vir jou ‘n boete.”

Toe die willebooslike kwaad Samaritaan by sy broer se huis kom, vertel hy wat gebeur het. Die broer staan op, verskoon homself, en ‘n rukkie later hou hy self by die gestrande motoris stil. Selfde storie.

Weer die boekie uit toe die broer lustig met die kannetjie doenig is.

“Ek hoop nie jy skryf vir my ‘n boete uit nie,” sê die broer, “want dis net water wat ek ingooi.”

Volgens die polisiekantoor Bethlehem is drie motorkapings en twee vragmotorkapings in die vorige verslagjaar daar gerapporteer. In die hele Vrystaat was daar 234 motor-, en 27 vragmotorkapings – amper een uit elke 14 vragmotorkapings in die Vrystaat word dus by hierdie een stasie aangemeld.

Maar Herrie kan hom nie indink dat Suid-Afrika se kapers die verkeerde tier in die tenk sal inspan nie. Maar in Nederland is daar al meer rede tot verwarring. Daar is al eksperimentele vulstasies waar motors waterstof kan inneem, en ook ‘n paar plekke waar elektriese motors se batterye snel gelaai kan word.

Jare gelede het ‘n Arabiese sjeik ‘n klompie kameelmis na ‘n universiteit oorsee gestuur om te laat kyk of daar nie ‘n manier is om sy Rolls daarmee aan te dryf nie. As mens die metaangas kan opvang, ja, was die antwoord.

Maar kort daarna word meer olie in die sjeikdom ontdek as wat die dors van al die Rollse in die wêreld kan versadig en is die saak nie verder ondersoek nie.

Maar so lyk dit vir Herrie, as die dinosourusse nog bestaan het, sou metaansgas ernstig oorweeg kon word. Wetenskaplikes bereken op die hoogtepunt van dié groot dierasies se bestaan het hulle jaarliks 500 miljoen ton metaangas deur hul mis in die atmosfeer vrygestel. Al die herkouers in die wêreld saam kom nou maar by sowat 50 miljoen ton “lewer”.

Vergeet van die tier in die tenk – dan sou dit die dino in die tenk wees wat bykans geen skadelike stowwe in die atmosfeer sou vrystel nie.

Maar Herrie begin al meer wonder: Loop daar nie tog nog ‘n hele klompie dinosourusse in Suid-Afrika los nie? Want wat trap dan sulke diep gate in die teerpaaie?

Herrie verstaan die omskakeling van ‘n man se ryding na iets wat met waterstof, of selfs metaangas, loop is nie sommer elke man se agterplaaswerkie nie. Die instandhouding ook nie. As ‘n man nie baie mooi weet wat hy doen nie neig so ‘n ryding om soos ‘n bom te werk. ‘n Regte bom.

Die soort bom wat mens graag onder ‘n motordief, en veral ‘n kaper se alie wil sien.

Herman Toerien