Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Switsers mag maar dampies maak

Switsers mag maar in kleiner restaurante en ander plekke waar kos bedien word die kankerbalkies aansteek.

So is in ‘n referendum besluit na die longverenging ‘n veldtog geloods het om dié gewoonte die nekslag toe te dien. Die vereniging is veral bekommerd oor mense wat passief rook.

Herrie het al van bate rate gehoor om mense van die rooklus af te kry, maar min wat gewerk het.

Toe Herrie nog ‘n troep was, sit ‘n luitenant lui in die sonnetjie met sy rug teen ‘n stoor, en stuur ‘n troep o sy pyp te gaan haal.

Herrie weet nie waar daai luitenant se gedagtes was nie. ‘n Mens stuur mos nie ‘n troep-ouman, en ‘n “gunner” boonop, om te gaan rookgoed haal nie. Teen daai tyd het die meeste troepe al ‘n hele klomp kordietstafies uit die kanonne se ladingsakkies gehaal om saam huis toe te vat vir ‘n bietjie sports.

Nie lank nie, is die troep terug met die pyp, en die pyp sommer klaar mooi gestop. Steeds ruik die luitenant geen …lont nie.

Maar hy het nie veel teue gevat nie, toe klim daai twak in ‘n vlammende bol uit die pyp uit. Na hy klaar droog aangetrek het, het hy maar weer ‘n dampie vir die skrik gevat.

Selfs die sammajoor het ervaar hoe sy sigaret skielik erg begin vonkies maak voor die twak ook uitmekaar gespat het.

Maar soms kan ‘n gewoonte nie sommer gebreek word nie.

Iemand wat jare gelede ‘n motorwerktuigkundige was, vertel ‘n tantejie het by l keraats ‘n spinternuwe ryding aangekoop. Maar ‘n dag of twee later is sy terug. Daar is fout, die karretjie begin na ‘n ruk se ry vreeslik te ruk.

Die karretjie word nagegaan, en selfs vir ‘n toetsrit geneem, maar loop soos ‘n droom.

‘n Dag of wat later is die tantetjie terug. Die karretjie maak steeds so. Weer word die karretjie nagegaan, en weer is daar net nie fout nie. Al raad is om ‘n ent saam met die tante, met haar agter die stuurwiel, te gaan ry. Die werktuigkundige gaan sit op die passasiersitplek en hou die tantetjie dop soos sy gereedmaak om die pad aan te durf.

Die sonbril word opgesit, die hoed reggeskuif, die vergasser uitgetrek, en die handsak aan die vergasser opgehang…

Ai, as Danelle van Niekerk, oud-Bethlehemiet se omgeboude Pumamotor met sy elektriese enjin toe al op die mark was – dan kon mens maar vir die tantetjie én haar handsak met die bestuurdery toevertrou het.
Herman Toerien