Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Stamlande se spraaksaamheid

By geleentheid, so word vertel, moes Neelsie Langenhoven in die parlement sy woorde terugtrek. Hy het naamlik gesê die helfte van die parlementslede is ‘n klomp ape, of iets in der voege. Flink trek hy sy woorde terug: “Agbare speaker, ek trek terug, die helfte van die lede is nie ‘n spul ape nie.”

Dit lyk of die appel nie ver van die stamland afgeval het nie. Jan Peumans, voorsitter van die Vlaamse parlement, meen die helfte van die parlement bestaan uit mense wat goed besig is, die ander helfte doen bijna, ekskuus, byna niks en strompel van kommissie na kommissie voort om gedut te kry.

Nog een meen niks doen is die “basislyn” van die regering.

Klink dit nie ook bekend nie?

“Soms raak mense verkies wat weens ‘n gebrek aan talent glad nie in dié halfrond tuishoort nie?” Weer eens klink dit mos of na onse praathuis verwys word.

‘n Blondine se wysheid lui: “Kritiek kan net waardeer word as die een wat kritiek uitdeel slimmer is as die gekritiseerde.” Lesley-Ann Poppe se wysheid het egter niks met die politiek te make nie, sy het gereageer oor hoe Eline de Muckover oor haar borste geageer het. En nee, Herrie ken nie die storie agter dié ontboeseming nie.

Terug na die politiek, en weer eens baie toepaslik op die Suid-Afrikaanse situasie: “Van soveel onbekwaamheid val my broek af.” Ene Filip Dewinter in ‘n onderhoud met die minister van Onderwys, Pascal Smet. In Suid-Afrika sou hierdie soort beSmetting van ministers omtrént die broeke laat afval, en al die kunsgalerye saam sou nie die argief van hierdie uitbeeldings kon uitstal nie.

Die Vlaminge steek ook so terloops tong uit na iets wat hul Nederlandse bure aanvang. Dat Amsterdam nou die bewoners van sy rooiliggebiede gaan registreer, gaan nie so vreemd af nie, maar dat ook vasgestel gaan word of hierdie dames van die nag darem ‘n westerse taal onder die knie het, leen hom wel tot ‘n korswil. Wat het taal nou met hul talente en dienste uit te waaie?

‘n Bedryf wat hier te lande maar sukkel om gereguleer te word, is die taxibedryf. Drie dronkies, erg aangeklam, besluit om ‘n taxi huis toe te haal, maar skaars het hulle ingeklim, of die taxibestuurder knipoog vir die ander wakkerder passasiers. Hy trek weg, en hou dadelik weer stil, en beduie vir die dronkies hulle is by hul bestemming. Twee sê dankie, en sukkel-val uit die taxi. Die derde, skynbaar bietjie meer by sy positiewe, leuen vooroor, en klap die taxibestuurder dat beide are amper aan dieselfde kant van sy kop sit.

“Vir wat jaag jy so?! Ons kon verongeluk het!” En toe strompel hy ook uit die taxi uit.
Herman Toerien