Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Sonde met die mollerige goed

As ‘n dorp mooi tuine het, is daar gewoonlik ‘n tuinbouklub. Bethlehem is geen uitsondering nie.

Soms is daar ook buite-om die tuinbouklub ‘n uitruil van plante en struike dat dit ‘n naarheid is. Groen vingers, dom vingers en vuil vingers woelt iedereen om ‘n tuinsieraad.

En so saam met die uitruilery verhuis daar dikwels ook ongewenste passasiers saam met die plante, soos slakke. Slakke met en sonder doppe raak sommer gou na nuwe plante aangeland het ‘n pes.

Stap ‘n willebooslike kwaad mannetjie eendag by Herrie in die kantoor in. By sy meenthuis het hy altyd die mooiste van mooiste tuine gehad. Pryse gekry ook.

Maar oorkant die straat is ‘n parkie, wat, sies, nie behoorlik in stand gehou word nie, sies. En op dié parkie was molle. Hy het geweet, want hy het die molshope gesien.

En toe, op ‘n dag, pryk die eerste vars molshoop in sy tuin.

Hy win toe inligting in oor hoe om van dié omkrapper ontslae te raak en begin al die raad, professioneel en boererate, inspan. Ses maande later is sy tuin amper ‘n woestyn, die bure het nou ook almal molle, en …

“Dis die misipale se molle, en ek dring daarop aan dat die misipaal hul molle kom terugvat,” beduie hy boos.

Maar niemand wil ‘n gegewe mol in die bek kyk nie.

Herrie gaan raapleeg ook bronne. Eintlik is dit nie molle nie, maar kruipmolle, ook genoem goudmolle. Drie van die vier mees bedreigde soogdiersoorte in Suid-Afrika is goudmolspesies.

Die bronne besing die lof van kruipmolle – hulle is insekvreters en verwant aan die krimpvarkie. Hulle belug en bemes die grond, en sal net nuwe plantjies beskadig. Die kwaai mannetjie kyk my aan of ek molsdolheid onder lede het.

Suid-Afrika het nie regte molle nie. Het die ding knaagdiertande en ‘n stertjie, dan is dit nie ‘n kruipmol nie, maar ook nog nie ‘n mol nie. Dis ‘n rotmol. Die bekendste is die duinemol, maar daar is nog ‘n paar spesies in Suid-Afrika met ondergrondse bedrywighede besig. Hul tonnels is dieper, hulle vreet plantmateriaal, en ‘n bol is ‘n heerlike vesnappering. Dié rotmolle was eintlik nooit ‘n plaag nie, maar toe gaan roei onkundiges die molslange amper uit. En is die slang weg, is die molrot baas.

Maar as ‘n mens heilig is oor jou tuin, vang jy nie die verdagte en ondersoek se tande en stert nie. Mense hou nie van molshope nie, of dit nou goudmolle of rotmolle s’n is.

So kla die een moedelose tuinier, hy spuit nat maar die water loop in die molsgat weg. Die plante kry niks.

Rate by die dosyne is nou, danksy die internet, net vingerpunte weg. ‘n Nuwe afweerder met ‘n knoffelbasis werk blykbaar vir al die soorte, en hou nie gevaar vir troeteldiere in nie. Een boereraat deur ‘n makker wat self erken hy weet nie hoekom dit werk nie, sê hy het die twee “punte“ van die tonnel oopgemaak en by elke kant gepiepie. Nie meer ‘n mollerige affêre van ‘n dag oud nie, maar die buurman lyk al of hy by hom wil kom plak van moedeloosheid.

Ander oorweeg om tent op die grasperk op te slaan, en deurnag met die rollie op ‘n kampstoeltjie te sit en kywie hou. Lyk dit of daar iets roer, word geskiet. Maar bygesê, dis darem ‘n man op ‘n plaas. In die dorp gaan hy in die vangwa gelaai word terwyl die mollerige goed te lekker vir hom lag.

Herman Toerien