Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Skool in die oertyd

Dis al ‘n dekade of so bekend dat na die strepe wat oermense met hul vingers teen die dak van ‘n grot in die suide van Frankryk getrek het, deur oerkinders getrek is. Nou het ‘n groep Amerikaanse en Engelse geleerdes in ‘n geskrif daarop aanspraak gemaak dat hulle die ouderdomme en geslagte van ‘n paar van hierdie oertydse leerlinge vasgestel het.

Die grotstelsel is sowat agt kilometer lank, maar net een saal, Kamer A 1, is blykbaar vir ‘n skool gebruik. Die hardwerkendste leerling was ‘n vyfjarige Cro Magnon-dogtertjie sê die geleerdes. Ja, tot vandag toe blyk dogtertjies gewoonlik flinker met skoolwerk te wees. Die jongste leerling was blykbaar drie, en die oudste sewe. ‘n Mens het klaarblyklik nie twee grade nodig gehad om vuur te maak, goggas onder klippe te vang, en af en toe ‘n bison of bok plat te trek nie. En natuurlik die hoogtepunte as rotskuns vir die nageslag te gaan teken nie.

Die lyne teen die dak toon dat die onderwysers die kinders op hul skouers moes gedra het, en self baie van die bewegings moes gemaak het om die patrone te maak. Vir ‘n sirkel het die onderwyser in die rondte gedraai, en vir ‘n sig-sag, die heupe geswaai.

Die enigste keer wat Herrie kan onthou wat een van sy onnies ‘n kind opgetel het, was toe Juffrou de Kock vir Vaatjie aan die een hand opgetel en met die ander hand met Mokerman op die arme kind losgetrek het. Herrie kan nie onthou wat arme Vaatjie verkeerd gedoen het nie. Waarskynlik het sy ma ‘n spelfout in sy huiswerk gemaak. Juffrou de Kock het ‘n beleid van ‘n hou vir ‘n fout gehad, en daarom moes die ma’s liefs die huiswerk doen. En die kinders die slae vir hul ma’s se gebrekkige spelvermoë kry. Herrie meen Vaatjie het gemeen dis ‘n onbillike stelsel, en juffrou de Kock het nie ooghare vir ‘n klasrewolusie gehad nie.

Nietemin, Herrie het self baie dinge op skool geleer. Soos: As Wolfie ‘n sigaretstompie op die skoolterrein optel, en Steyntjie wat reg voor hom in Klaasvakie se klas in die sonnetjie sit en gaatjies met ‘n vergrootglas in die bank brand, kan dieselfde energie gebruik word om die stompie aan die brand te kry. So ‘n vindingrykheid kon natuurlik nie in al die onnies se klas op die proef gestel word sonder die gevaar dat iets anders as die sigaret brand nie.

By ‘n ander onnie, noem hom maar meneer Beukes (nie een van sy meer bekende name is publiseerbaar nie) is gou vasgestel dat die gedreun van enige vragmotor genoeg was om die klas te ontruim. Dit was die dae toe die naskokke van die Bolandse aardbewing nog al dreunend by Stellenbosch aangedoen het. Dié onnie het só in die klas geslaap dat sy silhoeët teen die swartbord agter hom afgeëts was soos die kinders hom met “pea shooters” geskiet het.

Ottie by die wiskunde het die seuns weer vir rugby gebrei. Soos hy deur die klas geloop het om te kyk of die werk reg gedoen is, het hy die seuns met die vuis gepomp terwyl hy foute kry. Enigeen van ons kan tot vandag toe enige tyd teen Samoa op die veld draf.

Ja, Herrie het net 13 000 jaar te laat skool toe gegaan, want in plaas van tot ouderdom sewe skool toe gaan, moes Herrie ‘n dekade langer op die skoolbanke deurbring.

Herrie kan nou nie onthou of hy sy grootste skoolprestasie in die klas geleer het nie. Dit was om oor ‘n groot afstand ‘n suurlemoen deur ‘n oop venster in Ottie se klas in te gooi. Ottie was so vinnig by daai klas uit, mens sou sweer dit was ‘n stinkbom. Herrie dink ook nie hy het in ‘n klas so vinnig leer hardloop nie.

Herman Toerien