Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Skokkende kragteloosheid

Kyk, as dit die dag nie jou dag is nie, dan is dit nou maar net nie jou dag nie. Maar as ‘n man vir sy werkies van ‘n rekenaar afhanklik is, en die krag is die hele dag af… Dis onlekker.

En as ‘n mens se vinger op pad was om die knoppie te druk om ‘n berig in te stuur, en net dan skop die krag af, dan is dit regtig nie snaaks nie. Veel kan ‘n mens nie doen nie, want netnou kom die krag aan dan is mens nie daar om werk in te haal nie.

Ook Mev. Herrie is hard geslaan, want is daar nie krag nie, staan haar masjiene.

Dis al baie duisende jare dat die mens met elektrisiteit deurmekaar is – die weerlig wat elke nou en dan een of meer bygedam het, of die Egiptenare wat heel onskuldig vis gevang het, en dan ‘n brieskende paling in die net gekry het wat die wille waks uit hulle uitgeblits het. G’n wonder hul bote is skuite genoem nie.

En steeds kan die mens nie keer dat elektrisiteit soms sy eie ding doen nie.

Soos om op ‘n ongeleë tyd te flikker en die gees te gee.

Maar veral Klein Herrie is hard getref. Hy kan nie regtig praat nie, en verstaan gaan ook moeilik, en daarom is die TV nie net sy poort na die wêreld nie, maar ook na sy wonderwêreld van Spiderman en ander helde wat die slegte mense so vreeslik laat les opsê.

Sonder krag, geen TV en hy begin dikbek op en af in die huis dwaal – tipiese outismegedrag. Herrie verneem of hy nie dalk wil gaan fietsry nie. Hy brom objeksies, maar ‘n ruk later sê Mev. Herrie sy is bekommerd, want hy is nou al lank weg, en netnou kom die skole uit, en die paaie raak besig.

Klein Herrie is ‘n bobaas bergfietsryer – die dongas en sandpaaie in die veld is sy kos. Herrie se martelpyp was eens ‘n resiesfiets met dun wiele, en aard met beeshorings en al nie so lekker in die veld nie. En dit het warm geword, en Herrie is so vinnig by die huis weg dat Herrie nog sy jannas aan het.

En net mooi op die verste punt, is die voorwiel pap, en geen Klein Herrie nie.

So op die sandpad ry Herrie met die pap wiel terug, maar toe dit teerpad raak, is Herrie die lasdier.

Natgesweet by die huis, hier staan Klein Herrie se fiets klaar netjies gebêre.

En die krag is steeds af.

Maar Klein Herrie se tormentasie is nog nie oor nie. Dit sou sy eerste judoles wees en hy is vuur en vlam. Herrie het hom so bietjie touwys gemaak. (Een van Herrie se skoolvriende was ‘n yster met judo, en het weer vir Herrie die een en ander gewys). Klein Herrie het nog nie judoklere nie – eers ‘n les of wat agter die blad kry om te sien of sy belangstelling hou.

Net na die krag aankom, vertrek hy en Mev. Herrie. ‘n Ruk later is hulle terug – die oom wat die klas sou aanbied het nie opgedaag nie, en die beginnersklas, ‘n klomp kleintjies, het speletjies gespeel. Klein Herrie is negentien, is oor die ses voet lank, en speel nie met kleintjies nie. Hy is net erg dikbek.

‘n Uur of wat later het sy bui gesak, en hy maak sy opwagting in die sitkamer. Iewers het hy Herrie se ou karatepak opgespoor, en aangetrek. Hy kom demonstreer waarvoor hy hom eintlik wil inlaat. Hy pak die karate uit wat Herrie hom geleer het – en hy self verder a-la-TV by Jackie Chang “vervolmaak” het, met die paar judobewegings wat Herrie hom ook geleer het tussenin.

Dit gaan net woes.

Met sy woeste demonstrasie agter die blad, die krag wat sy TV dryf aan – en die Kaap is weer pure Japans.

———————————————–

My e-boek, Die reine waarheid en ander liegstories nou beskikbaar by Leserskring, Kalahari, My Books en Amazon deur Boekemakranka se maklike skakel. Onthou die boek tel ook vir klublede van Leserskring se verpligte maandelikse aankoop. Herman Toerien