Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Skaapdief in die &^%

Kyk, Herrie sal huigel as hy probeer voorgee dat daar nie ‘n groot lekkerte oor hom neergedaal het toe hy lees van ‘n voortvlugtige skaapdief wat in ‘n longdrop geval, en daaruit gered moes word om hom te arresteer nie.
Letterlik in die *&^ van die skaapstelery.
Dié verhaaltjie het hom in Qwaqwa afgespeel, waar twee mans ‘n skoot op ‘n veewagter geskiet het, en toe 15 skape uit ‘n kraal gesteel het.
Nogal op ‘n Sondag.
Hulle is deur ‘n woedende skare agterna gesit. Die een dief het in ‘n huis gaan skuiling soek, en die eienaar twee keer in die been geskiet, voor hy verder wou vlug en toe nou die vreeslike teenspoed op die lyf loop.
Op die lyf, in sy …
Wag, daar is darem ruimte vir verbeelding ook.
Gewoonlik , as die gemeenskap ‘n skaapdief aankeer – eintlik enige misdadiger – is hy maar te bly as die polisie opdaag voor hy te erg verniel is.
Want die gemeenskap speel nie met ‘n misdadiger nie.
‘n Paar maande gelede het twee jafels die Herries se huishulp se huis geplunder terwyl sy by die werk was, onder andere haar tweeplaatstofie wat sy vir kosmaak vir haar en haar kleinkinders gebruik – ja, sy is ook een van die oumas wat na kleinkinders moet omsien…
Die gemeenskap het die manne vasgetrek, hoewel die stofie reeds verkwansel en weg was. Die huishulp se oudste seun, ‘n yslike Shangaan wat vir ‘n veiligheidsmaatskappy werk, het die voorreg gehad om aan die oortreders te verduidelik dat dit nou nie mooi was wat hulle sy ma aangedoen het nie. Eintlik het hy glo maar min gesê en die sambok die praatwerk laat doen.
In geval van die skaapdief meen Herrie , sou niemand nie eens met ‘n sambok aan die man wou raak nie. Dit miskien nog, maar ‘n ander sou hom moes vashou, want as die sambok eers begin praat en jy is nie vas nie, kry jou voete vlerke en makeer jy gou uit die omgewing uit.
Maar dalk is dit ook maar gelukkig die skaapstelery en onkonvensionele besoek aan die longdrop het hom in Qwaqwa afgespeel. Was ‘n kommersiële boer iewers betrokke, sou ons wel weer van die grootbek Malema gehoor het hoe wreed die boere is – hulle gaan gooi sosialistiese herverdelers in longdroppe.
Arme longdrop.