Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Senior burgers se SMS-taal

Wanneer is ‘n mens ‘n senior burger?

So wonder Herrie toe hy nou die dag by die bank kom, en dis net ballonne. Herrie staan nog so in die tou sy beurt en inwag, toe kom ‘n jonge dame en sê die dag het ‘n spesiale senior burgerdag, Herrie kan maar die goedjies vir haar gee, en solank ‘n koppie koffie gaan drink.

Herrie, synde nou wel aan die regte kant van 50 maar darem nog nie by sestig nie, het nog nie aan homself as senior burger gedink nie. Maar haal Herrie 60, sal hy seker voel senior burgerskap begin by 70.

Nou ja, Herrie praat nou die dag met die vrou van ‘n afgetrede regter. Sy en die regter is nog op en wakker, maar al oupa- en oumagrootjie. En nee, dis nie haar eie status as oumagrootjie wat haar vang nie, sy het net gesukkel om daaraan gewoond te raak dat haar seun nou al ‘n oupa is.

In 1930 rond het die gemiddelde ouderdom vir mans in die VSA maar eers Herrie se huidige ouderdom gehaal. Amerikaanse vroue het al in 1919 rond hierdie mylpaal gehaal. Nou ja, oor ‘n paar jaar gaan Japan sowat ‘n miljoen inwoners van ‘n 100 jaar of ouer is.

Jare gelede het ‘n Stellenbosse proffie en sy vrou ‘n laatlammetjie. Baie laat. Die tweede jongste was al uit die huis uit toe die kleinman skool toe is. Die tweede dag bly lê hy in die kooi en sy ma het moeite.

“Ek is mos klaar met skool,” verduidelik hy. “Juffrou het gesê ek moenie weer skool toe kom nie.” ‘n Misverstand.

‘n Ruk later kom hy boos vir pa en ma terug van die skool af. Sy gemoed, blyk dit, is onlekker oor sy ouers vir hom gejok het. Die juffrou het in die klas vir die kinders gevra hoe oud hul pa’s is, en toe hy sê sy pa is 59, lag die kinders vir hom en sê hy jok, ‘n mens kan g’n so oud word nie.

Nou ja, toe die bankdame vir Herrie die gratis koffietjie en so aan aanbied, help Herrie haar maar liefs nie oor sy ouderdom reg nie. Netnou meen sy Herrie is ‘n swendelaar – mens kan g’n so oud word nie.

En wat Herrie natuurlik ook tref, van die ou toppies in die tou voor Herrie is Herrie seker is ouer as Herrie.

Herrie se norm om te weet wanneer hy self oud is, is die dag wanneer daar iewers ‘n spier in sy lyf is wat hy nie meer willekeurig kan hard maak nie. Herrie kan selfs nog sy boepie kliphard maak. In Herrie se nek is ‘n spier so hard soos been, maar dis ‘n spasma en tel seker nie. Komplimente van ‘n vliegongeluk met die motorfiets toe Herrie nog jonk was, of liewer, nog jonger was.

Buurman sê sy boepie is nie van ouderdom nie. Dis van oefening. Elke keer wat hy die pik in Bloemdroogfontein se grond inslaan, moet hy eers loop en ‘n bier gaan drink. Die baie oefening, verduidelik hy.

Daar is nou selfs al ‘n SMS-taal vir ou mense, net soos wat die jonges ‘n SMS-taal het. WMB is bv “Waar is my bril?” WJT is: “Wie het Jig in die tandeglas gegooi?”

Die bekendste? GaVlieg. Dis die boodskap aan die kinders wat beteken: “My gehoor beteken nog niks en ek sal nie ‘n gehoorapparaat dra nie.”

Herman Toerien