Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Scooter-ghedoems

Die Christelike Motorfietsklub van Bethlehem se Scooter Run roep ou herinneringe op.

Nee, nie hierdie Scooter Run nie, een in ‘n buurdorp. Dit was ‘n buitengewone goeie oesjaar, en Faan Viljee het doodtevrede met sy bakkie vasgeknyp onder die arm langs sy lyndraad afgery toe die klomp motorfietse by die dorp uitgery kom. Hy herken van sy bure.

“Wat gaan aan?!” roep hy.

“Ons hou ‘n scooter run, ons gaan by die dam braai en piekniek hou en…” maar toe is sy buurman al buite hoorafstand.

“Hang bietjie terug, ek is nou daar!” brul Faan en sy viertrek spoeg polle soos hy dorp toe jaag. Die bakkie sluk-sluk nog, toe staan Faan al by die verkoopsman. “Ek soek daai ene,” en hy beduie.

“Die Kawasaki?” vra die verkoopsman nog maar hy ken Faan en weet sy kredietwaardigheid is vanjaar goed, en toe teken Faan al klaar.

Die balpuntink is nog nat, toe brul Faan al met die Kawasaki by die handelaar uit, en vat die pad Frankfort toe. Lekker wintie.

Nie lank nie jaag hy die manne en vroue op die 50’e verby. So in die verbygaan skree hy nog: “Ken julle ‘n Kawa…?” maar is toe klaar buite hoorafstand. Toe kom die 125’s, en weer skreevra hy in die verbygaan of hulle ‘n Kawasaki ken.

En so werk hy sy pad op, en jaag steeds met die vraag op die lippe by die dertienhonderds verby, en toe by die verkeersman heel voor wat die prosessie begelei.

“Ken jy ‘n Kawasaki?” skree hy vir die verkeersman, maar is lankal vort voor die verdwaasde ysterperdsjerrif nog sy mond kon oopmaak.

Maar daai spietkop skraap vir Faan, en is ieaaieaa agter hom aan, maar kry nie eintlik die gaping vernou nie. En toe maak die pad ‘n draai, en daar kom fout. Faan hou reguit, deur die heining, deur ‘n mielieland tot binne-in die Wilgerivier.

Toe Faan proesend bo die water uitkom, is die verkeersman reeds besig om sy skryfgoed reg te kry.

“Ken jy, hoes, hoes!, ‘n Kawasaki!” skree hy vir die spietkop.

“Ja,” sê die man bedaard.

“Nou waar sit die &^%$se brieke?”

Ja, dat daar ‘n Christelike motorfietsklub is, gaan seker met die manne wat nou grys om die slape en baie breë middelmannetjies het moeilik in die klere sit. Maar soos enige ander ryding se ridders, is motorfietsryers baie divers.

Van die besoekers aan die Willeboer wat middernagtelik kyk of die wêreld-landspoedrekord en sommer die klankgrens in die Herries se straat kan breek, tot die jong dominee wat met sy ysterperd kerk toe ry.

Maar vergewe die gryse slape se verwondering. Die dae toe die Ducktails met hul baaiks om Bloemfontein se Hoffmanplein saamgetrek het, nog nie vergete nie. “Hei ghabba, hoe lykkit met ‘n las man?” Baie ghabbas het maar gelas, want ‘n oliekuif met ‘n blink ketting in die hand lyk nie of hy alte poliets vra nie.

En daai dae was daar liederlike gevegte tussen die ducktails en die troepe by Tempe, en vir afwisseling met die studente, wat op hul beurt elke wan en dan met die troepe slaags geraak het.

Maar as die troepe opruk plein toe, na ‘n troep iewers deur ‘n ducktail afgeknou is, dan is al wat polisieman op die buitewyke aan diens. ‘n Probleempie wat homself uitsorteer en die hospitaal bietjie voller maak.

En as die ducktails agterkom die oormag in aantog is te groot, was daar darem ‘n tiekieboks en ‘n langtiekie byderhand om versterkings uit Welkom te laat kom. Glo ‘n indukwekkende prosessie as daai manne die pad Bloem toe vat om hul makkers te kom help wat onder die toksakke (dis natuurlik iets anders genoem) met die strykysters in, deurgeloop het.

Al wat Herrie aan die mense in die Scooter Run wil sê: “Ry versigtig.” Eerstehandse ondervinding van ‘n vliegongeluk met ‘n motorfiets.

Herman Toerien