Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Rugby en rygoed

Koos van Rensburg, eens heelagter van die Oos-Vrystaatse rugbyspan, skryf onlangs in Volksblad nostalgies oor die gebeure met die Sport Pienaar-eindstryd van 1986: “So styg ek as heelagter van die Oos-Vrystaatse rugbyspan op 5 September 1986 op met ’n Dakota van Bethlehem na Cradock vir die eindstryd van die Sport Pienaar-beker teen Noordoos-Kaap. Aan boord is onder andere rugbylegendes soos Dawie Pretorius, Japie van Wyk, Tienie Greyling en Ben du Toit (afrigter), en natuurlik ons eie ‘Frans Koerant’ Coetsee, verslagskrywer. Die wedstryd verloop hard, maar regverdig en ons verloor met 1 punt! Ons kry elkeen R20 vir ’n paar biere vir die onthaal!

Met die terugvlug gaan dit so jolig dat twee van Frans Koerant se maer ribbebene afgeduik is in die Dakota… Ja, dit was toe rugby nog rugby was!”

Klink vir Herrie of R20 destyds nog ‘n hele lot geld vir biere was.

Ja, Herrie is oortuig ‘n mens sal ‘n baie interessante boek kan saamstel oor rugbyskrywers se wedervarings op allerlei rygoed saam met provinsiale spanne. Maar Herrie dink baie van daardie stories het ter wille van die goeie orde nooit die tiklint gesmaak nie.

Hoe sou ‘n koerantman nou verslag doen oor die gebeure rondom ‘n wedstryd wat ‘n Vrystaatspan in die jare toet op Nuweland gaan speel het? Maer jare, en die span – net 15 spelers want plaasvervangers na die wedstryd begin het was nog taboe – is met die trein Kaap toe. Op die trein gaan dit skynbaar jolig, want toe die span by Nuweland van die trein afklim, is een van die spelers se bene stokstyf. En sonder ‘n spandokter, of soos deesdae, ‘n mediese span wat ook ‘n fisioterapeut insluit, is dit nag. Toe die span met hul destydse kniebroeke op die veld draf, is die man se been nog so stokstyf soos ‘n Oos-Vrystaatse graatjie wat op ‘n miershoop die wintersonnetjie oplek.

Die arme man moes maar agter saam met die heelagter gaan diens doen, en het so stywebeen heen en weer oor die veld gepiekel. Die Vrystaat verloor, en toe die span afstap, roep iemand bekkig uit die beroemde suid-pawiljoen: “Kêppie! Waa kry maastah-hulle daai voelbêk met die houtbeen?”

Doeriejare was daar by baie ‘n geneigdheid om op veral sekere “sektes” neer te sien. Herrie sal nou liefs swyg oor welke gemeente die “vreeslikheid” oorgekom het.

Die dominee van een van die susterkerke het begin praat en praat van sy karretjie wat opgery geraak het van al die huisbesoek doen. Sy gemeente het ‘n groot deel van die distrik ingesluit ook, en die donasies in natura wat so ongesiens onder huisbesoek in die kattebak gesit is, was ook maar onsagkens op die karretjie se geveertes.

Maar die kerkraad is horende doof Die karretjie loop nog. En loop kom die dominee een Sondagoggend aangeloop by die kerk.

“En nou dominee?” wil van die broeders ouderling weet.

“Die karretjie het ingegee op pad kerk toe, en ‘n barmhartige Samaritaan het my opgelaai.” En toe kry die dominee ‘n ingewing: “Dit was die pastoor wat my opgelaai en diskreet om die hoek afgelaai het.”

Die broeders is geskok oor dié “verleentheid” en na ‘n in prompte kerkraadsvergadering kom die beslissing: “Dominee kan maar môre ‘n nuwe rydingetjie gaan uittrek.”

Herman Toerien