Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Pumba en die k-woord

Dis al jare gevaarlik om die woorde “stap”, “loop” en selfs “wandel” in enige van die tale wat die Herries gesamentlik ken te gebruik, want Pumba ken hulle almal.
Dan raak sy uit haar kassie uit en probeer haar bes om te laat verstaan sy meen sy is ingesluit onder diegene wat voetlangs of pootlangs ‘n ekskursie onderneem.
Dit bly ‘n openbaring oor wat ‘n hond alles onder die knie kan kry.
Toe Pumba as ‘n klein hondjie die eerste keer huis toe gekom het, was die Herries se wit kat “uitstedig.” Later die dag hef die kat sy aaklige gekattemaai voor die agterdeur aan, en toe die deur Sesame, toe begin die kat ewe stywepoot instap. Maar net ‘n tree of twee toe ruk die kop op, die kat vries, die lug word besnuffel, en die kat makeer.
Later het die kat teruggekeer, maar die kat se instink was reg: Pumba verdra g’n kat nie. Eers na ‘n dosis pepersproei het sake in die huis vir die kat leefbaar geword. Buite – daar het Kat se kind, geweet moet hy katvoet loop. Of eerder, hardloop.
So ‘n ruk gelede is die kat afgesterf. Die Herries besluit om nie ‘n plaasvervanging te doen nie. Maar van iewers het ‘n swart kat – duidelik iemand se huiskat, hom gereeld op die Herries se erf begin bevind. Pumba raak berserk. Wanneer Pumba hond se gedagte kry daar is ‘n kat in haar erf, pak sy geluide uit wat nie normaalweg met ‘n hond of aanverwant geassosieer word nie.
Maar gebruik nou die woord “kat” in Pumba se omgewing, en die hel bars los. Nog erger as die woorde “swart kat” gebruik word. Kom sy buite verander sy in ‘n vlakhaas wat die onaardigste dreigende geluide maak.
Ter wille van ‘n mens se oordromme word die k-woord dus vermei.
En so ongelooflik soos dit klink, Pumba het ook leer onderskei tussen die diefalarm se stel om hom aan te sit, en af te sit.
Op eersgenoemde reageer sy niks – op die tweede, selfs as ‘n man laatnag deurmekaar raak en die verkeerde een invoer, kan Pumba ook waar lê en slaap, dan is sy sekondes later daar. Want dit dui mos op ‘n avontuur!