Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Politiek en die afgekapte hande

Herrie se Kerrie

Herrie se Kerrie

Ons ken hulle almal: Diegene wat met die uitdink van projekte en die beplanning daarvan hul monde vol het, maar as dit by die uitvoering kom, dan makeer hulle in al hul glorie.
Soos die lappie ongebruikte grond in die Herries se kerkerf. Elke nu en dan moet daar skoongemaak word. Vele hande maak ligte werk, en op ‘n Saterdagoggend kan ‘n tiental manne en vroue dit in ‘n japtrap kafdraf. Maar wat daag op? Vier en ‘n halwe man – die halwe synde die een se seuntjie wat meer entoesiasme as vermoëns het.
Verkiesingstye word partye ook oorval deur mense wat graag as kandidaat wil staan. Herrie, wat al taamlik by die politiek betrokke was, sal sê baie wil eerder vir die party as kandidaat lê. Veral na die verkiesing as hulle op die soustrein ry.
By geleentheid word ‘n party waarvoor Herrie gewerk het tien jaar oud, en Herrie stel die tienjarige geskiedenis op. Nee, maar hulle soek dit eintlik in “all English.” Herrie meen dis darem nie ‘n probleem nie – al die navorsing is gedoen, die party het ‘n kwart miljoen stemme getrek, en by vergaderings word met oorgawe “Halleluja, Halleluja” geroep en gesing. Uit die kwartmiljoen sal daar darem seker een entoesias wees wat die bundel in Engels sal vertaal. Toe nou nie. Daardie party kry nooit weer Herrie se stem nie.
Maar dis nie net Herrie wat hom oor dié verskynsel verwonder nie. In Nederland skryf die Christelike dagblad Trouw oor die verskynsel van politieke populisme. Mense gaan stem met entoesiasme vir partye wat hulle meevoer oor populistiese sake. Soos die party wat so woes waarsku teen vreemde immigrasie.
Maar wat gebeur in die praktyk waar daai party die septer swaai? Dié gebiede verswelg in, soos die krant dit stel, duivenpoep wat nie opgeruim word nie.
In Mev. Herrie se onderneming (ja, vir Herrie bly ‘n besigheid nog die ding wat die hond op die gras doen), met die opskrif: Wie moet die werk doen?
Vier kollegas, Almal, Iemand, Enigeen en Niemand kry ‘n belangrike opdrag. Almal was seker dat Iemand dit sal doen. Enigeen kom dit doen, maar Niemand het dit gedoen nie. Dit het Iemand kwaad gemaak, omdat dit Almal se werk was. Almal het gedink Iemand sou die werk doen, maar Niemand sou die werk doen, maar Niemand het besef dat Almal dit nie sou doen nie. Die gevolg was dat Almal Iemand kwalik geneem het toe Niemand nie gedoen het wat Enigeen kon doen nie.
Nou ja, terwyl Herrie hier geskryf het en die hond se besigheid op die grasperk gaan opruim het, het Niemand die vuur vir die braaivleis aangesteek nie. En Herrie is seker Almal sal wil eet, al kon Enigeen anders die vuur gaan aansteek het, en Herrie was seker Iemand sou dit doen.
Nou ja, Herrie moet gaan stem. Oorkant die straat is ‘n stormwaterinlaat waarvan die een betondeksel punt in die wind staan, en die deksel langsaan is skoonveld. Nee, nie van gister af nie. Nog voor die groot sokker het Herrie dit al agtien maande lank weekliks gerapporteer. Daar het self ‘n foto van Herrie in die koerant verskyn, waar Herrie binne-in daai gat staan waarin Enigeen snags kan val, en Iemand seer kan kry as die straatlig nie werk nie, maar gelukkig het Niemand ingeval nie, en kan Almal hul hande in onskuld was (as dit nie te veel werk is nie). Nou. ‘n jaar na die groot sokker, is dit nog so. Volgens die politieke woordeboek beteken dit goeie dienslewering, want die partye stry mekaar op wie vir die beste dienslewering verantwoordelik is.