Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Pik ‘n (lag)traan

Dis wat Herrie betref, ‘n sonde om vir ‘n gestremde te lag.
Klein Herrie, byvoorbeeld, kan, gestremdheid ten spyt, vreeslik gou agterkom as iemand met hom spot, en ja, dan bloei ‘n ouerhart om die gevolge te sien – hoe diep dit in daardie teer kinderhart ruk.
Maar dit beteken nie dat die gestremde en die eenvoudige nie soms humor oplewer nie. Gaan geniet daardie humor net iewers waar dit nie kwets nie, en op ‘n manier wat darem die deernis dra wat die situasie verdien.
Die afgelope week of twee kom ‘n paar sulke insidente oor Herrie se pad.
‘n Vriendin van mev. Herrie is op soek na haar verlore neef, iemand wat elke nou en dan die pad vat en boemelaar word. Die gerugte het haar bereik dat hy nou na ‘n saliger omgewing verhuis het, maar soektogte by lykshuise en so werp nie lig op die saak nie.
Dis toe dat sy haar tot sy “straatkollegas” wend. Sommer gou, vind sy uit, daar is – minstens nou – ‘n groot standverskil tussen verskillende kategorieë outies. Tussen hulle is ook min, of geen kommunikasie nie.
Iemand wat vertel hy is ‘n bekende oud-Springbok se seun is besonder behulpsaam. Hy het blykbaar ‘n soort “vrypas” om met die ander klasse as hy self te kan kommunikeer, maar sy hulp lewer na verskeie ritte na ander outjie-gemeenskappe se houplekke ook niks op nie.
Jare gelede het die staatsdiens ‘n afdeling van beskutte arbeid gehad. Hulle is ook ingeroep om Herrie-hulle se kantore te kom skoonmaak nadat die gebruiklike skoonmakers droogmakers geword het. Herrie kon hom altyd verwonder hoe pynlik netjies die beskutte arbeid kon wees. Na die nuwe skoonmaker met Herrie se kantoor klaar was, kon ‘n mens ook van die vloer af eet. Dis silwerskoon. Sy toesighouer, vermoed Herrie, moes egter diensplig gedoen het en by die korporaals afgekyk het, want hy kyk skaars na die arme man se trotse handewerk, vee net met sy vinger bo die kosyn. En sy vinger kom vuil terug!
Dit lyk of die arme skoonmaker in die grond in sink soos hy uitgeskel word. Die volgende dag groet hy, vee liggies oor die meubels, maak mooi bokant die kosyn skoon – en weer is dit al plek waar die toesighouer kyk. Die derde oggend groet hy net en maak bo die kosyn skoon. Na ‘n paar dae moes die vorige span skoonmakers maar weer laat kom word.
Maar nie voor die grootbaas een van die beskutte arbeid teenoor ‘n kollega hoor mor het nie: “Daai nuwe ou is sommer ‘n so en so. Net twee weke hier en hy is al op die ‘hoses’”.
‘n Prokureursvriend vertel die stad se regsgemeenskap het gaan afskeid neem van ‘n regter wat gesterf het. In ‘n baie plegtige seremonie strooi sy mederegters sy as in die hof se tuin, dig teenaan een van die spuitfonteine op die terrein. Dis toe dat die vriend die een tuinier agter hom vir sy kollega hoor vra: “Bliksem Gert, het jy al weer nie die visse kos gegee nie?”