Subscribe by Email

Herrie se kerrie: PH Nortjé as skrywersrolmodel

Herrie is lank nie as skrywer in die liga van PH Nortjé nie, maar met dié veelsydige skrywer se heengaan op 91, is een van Herrie se rolmodelle as skrywer se pen nou finaal stil. ‘n Ander was Jan Spies.

Ja, Herrie het deur sy boeke grootgeword met PH en sy gesin, en die bure en oupa Grootbul en Tessa die spanjoel. En die bure. Herr von Bundelstein, die Engelsman Solly Barnes en die nagblinde Nederlander, Jan Oosterhuys.

In die meeste van sy boeke is die sonskynkant van die lewe raakgesien en raakgevat, en in die ander die aardsheid van sy grootwordwêreld in die Baviaanskloof, met Meester wat die kloof se kinders met die lat vir die grootmenswêreld voorberei het.

Maar nooit vlak of verspotte humor nie – soos een resensent geskryf het – sy stories het altyd gelyk of dit die waarheid kan wees, en baie was die waarheid of baie na-aan die waarheid.

Gelukkig sal sy leesstof nog lank met ons wees.

Die les is dat daar nog humor in ons droefgeestige wêreld ook is. Soms moet ‘n mens net bietjie daarna soek, soos dat Honduras ‘n 48-uur alkoholverbod verklaar het. Dié droëbektyd is afgekondig nadat 18 mense dood is wat hul dop met metanol ekstra skop gegee het. Nog ‘n klomp is tot in die hospitaal geskop.

Herrie is nie ‘n man wat sommer simpatie het met iemand wie se kankerbalkies of dop ontydig opraak nie. Maar een keer, kleintyd, het Herrie tog vir iemand jammer gevoel. Herrie het in die kar gewag terwyl Pa Jan gou by die OK vir ‘n noodsaaklikheid ingedraf het. Die OK op Stellenbosch was langs die Grand Hotel se buiteverbruik, en dit was Vrydagmiddag laat, en dan is daai plek baie besig. Die OK ook.

Maar by die buiteverbruik sal menige weekloner instap en sy hele weeklikse loon op die likiede bates spandeer, en eers teen Dinsdag weer kapabel wees vir werk, en Woensdag weer in volle produksie wees.

Een makker steier onder die vraggie wat hy in ‘n sak oor sy skouer by die swaaideure uitpiekel, en net toe hy die straat wil oorsteek, skeur daai sak oop. Dis ‘n gekraak van glas, en skuim en walms, en die kosbare voggies loop flink langs die randsteen by die stormwaterinlaat in. Daai verslae, hartseeruitdrukking, eintlike verpletterde uitdrukking op die man se gesig, sal Herrie nooit vergeet nie. Simpatie nie, maar jammer vir hom wel.

Maar dié week dink Herrie ook aan wyle Charlie, die sjimpansee van die Bloemfonteinse dieretuin wat so lief was vir dampies maak. Dis toe Herrie lees van ‘n oerangoetang in ‘n dieretuin in Indonesië wat nou van sy dampielus genees word. Hoe verduidelik ‘n mens nou aan ‘n sjimpansee of oerangoetang dis in sy beste belang dat hy die rookgewoonte moet afleer terwyl die besoekers nog lekker dampies maak?

Dis hartverskeurend. Herrie het gesien hoe ‘n verwese Charlie vir besoekers wat lustig aan hul skywe suig woes beduie hoe lus hy ook nou vir ‘n trek of wat het. Van pure lus klap hy dan sy lippe terwyl hy met sy arms rookbewegings uitvoer.

En dis die mens se skuld dat dié mensape verslaaf geraak het. Hulle boots die mens as rolmodelle na.

Ja, kort voor lank sal hulle seker ook aan nog ‘n mens-verslaafdheid gehoek wees – selfone teen die ore. Herrie lees dat die dag na die drakoniese Kaapse wetgewing in werking getree het, is agt Kapenaars se selfone gekonfiskeer omdat hulle in die ry daarmee geklets het.

Hoe geen mens ‘n tiener ‘n oorveeg? Klap sy selfoon.  

 

 

Herman Toerien