Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Outisme en ‘n besondere 6 April vanjaar

Vanjaar was 6 April vir die Herries ‘n besondere een. Nie alleen was dit Goeie Vrydag nie, maar Goeie Vrydag het vanjaar met die ou Stigtingsdag saamgeval.

En Klein Herrie is op die laaste amptelike Stigtingsdag gebore. Kortom, hy verjaar ook op 6 April. Mev. Herrie verseker vir Herrie dis geen toeval dat Klein Herrie op sy geboortedag verjaar nie.

Eintlik is Klein Herrie nou al ‘n jong man. Maar Klein Herrie is kort na Wêreld-outismedag in outismeweek en dus ook in outismemaand gebore. Klein Herrie is outisties, en sy held is steeds Spiderman. Op sy verjaarsdag is Herrie met die kamera opgekommandeer om hom in sy jongste Spidermanpak te gaan afneem. Hiervan het hy al ‘n hele paar, wat hy self maak, want die vervaardigers maak nie Spidermanpakke vir “kinders” van twee meter lank nie. (Op die foto’s is drie verskillende Spidermanpakke wat hy gemaak het. Niemand het hom geleer om dit te maak nie.)

Outisme neem wêreldwyd vinnig toe, en volgens die jongste Amerikaanse data is dit nou al een uit 88 geboortes. In 1991 was dit nog 6 uit tienduisend geboortes. Verskeie faktore soos die uitbreiding van die definisie en beter opvangs beïnvloed die syfer, maar dat daar ‘n geweldige toename is, is ook so.

Nie twee gevalle van outisme is presies dieselfde nie, en die Herries is baie dankbaar dat Klein Herrie so ‘n mooi geaardheid het. Sy mooi geaardheid verhinder egter nie dat hy baie op sy eie is nie – met sy verjaarsdag het net twee mense gebel om geluk te sê – die een ‘n bejaarde tannie wat self in die verskriklikste ellende is maar sorgvuldig die Herries se verjaarsdae onthou en bel. En as sy kan, ‘n koek bring. Vanjaar het sy ‘n paar dae vroeg gebel.

Een e-posgelukwensing ook.

Maar sy verjaarsdag, sonder ophef of te nie, is vir Klein Herrie baie belangrik. Die dag voor die verjaarsdag is hy soos ‘n dwaalgees deur die huis, en gaan rapporteer later aan Mev. Herrie hy sien die koek, maar dan nog g’n present nie. Wou net doodseker maak dis nie vergeet nie.

Kersfees is ‘n nog groter gebeurtenis. Mev. Herrie het gelas die Kersversierings mag nie voor 1 Desember aangebring word nie. En op 1 Desember elke jaar word die opslaan-Kersboompie uitgehaal, en die versierings aangebring. Soos die Kersgeskenke begin aankom, word hulle sorgvuldig onder die boompie geplaas. En Oukersaand word geskenke uitgedeel en foto’s geneem.

Hy verstom steeds almal met sy kunstalent – en hy neem tekenklasse en kermakiekklasse by twee besondere tannies, tannie Anita en tannie Louise. In beide die klasse deel hy lesse met ander gestremdes. En wanneer sy kunswerke kopers kry is dit vir sy ouers soos om van familie afskeid te neem, maar daar wag ook ‘n lewe op hom wat nie noodwendig so beskut is soos wat hy nou ervaar nie.

Die opmars van die toename in outismegevalle is nog na volwasse sorg onderweg, en in lande wat die kombers van versorging volledig probeer span, is reeds groot kommer. Skotland, met sy puik parlement, het die toon aangegee met wetgewing hiervoor.

Outisme is amper soos ‘n planeet in ‘n ander dimensie hier om ons, maar Planeet Outisme bestaan nie – hulle leef saam en onder ons.

Herman Toerien