Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Oom Stan en die petrolprys

“Nee, genade, soos dit nou gaan betaal ons een van die dae ‘n rand per gelling vir petrol.”

Oom Stan was plat op sy blaker en wydsbeen aan die woel met sy grassnyer. ‘n Tweeslag. Hy was besonder profeties, want kort tevore nog het Ma vir die kewer die gebruiklike rand se petrol laat ingooi, en daarmee is altyd ‘n hele ruk rondgery. Toe die uwe so vyftien jaar later, in 1976 móés petrol ingooi, maar net ‘n rand byderhand gehad het, kon ‘n mens nie die verskil op die meter sien nie.

Niks het vir oom Stan se twee growwe hande verkeerd gestaan nie, en dus was hy ook ‘n gewilde aandoen op ons buurt se jongetjies. ‘n Mens kon baie leer. ‘n Man van min woorde, en geen knope nie, al het dit soms ook hoe ‘n gesukkel in die ghrieserige stukke enjin afgegee.

Oom Stan is kort hierna oorlede, nog voor hy die profetiese sy van sy woorde kon beleef, en het sy jong gesin agtergelaat. Oom Stan, al had hy boonop nog ‘n Engelse van, was ‘n sout-van-die-aarde Afrikaner.

Tog onthou Herrie veel meer van hom, as van oom Willem wat eers ‘n paar jaar later in die huis skuins agter oom Stan se huis kom intrek het.

Oom Willem was weer ‘n man van vele woorde, en blykbaar iemand met twaalf duime en dertien ongelukke. Of so iets.

Het sy grassnyer moeilikheid gegee, kon oom Willem seker tien minute lank knope laat sonder om een woord te herhaal. Dit was Boontoe en onder die belt en doer wyd, met die buurt se kinders wat in ‘n kring op die ringmuur gesit het asof dit ‘n pawiljoen is, terwyl sy arme kinders nie geweet het waar om hul koppe in te steek nie, en die huishulp vir sy breedsprakigheid gelag het.

Oom Willem het by omtrent elke geleentheid op die dorp waar daar van ‘n luidspreker gebruik gemaak is, as die seremoniemeester of omroeper of wat ook al opgetree. Baie bek. En musiek gemaak, gewoonlik boeremusiek, wat in ons universiteitsdorpie nie noodwendig die gewildste keuse was nie.

Behalwe…Die een ding wat oom Willem se gewildheid in ons buurt gered het, was die Amerikaanse vrou wat reg agter hom gebly het. Dié tante se groot musieksmaak is destyds nog erg verdink van iets met satanisme te make kon hê – soos die Beatles se musiek. En, volgens haar kinders, móét daai soort musiek hard gespeel word. Wat oom Willem dan moes ontgeld.

Oom Willem het gepraat, glo verbasend mooi. Toe minder mooi, en toe taamlik breedsprakig. Maar die tante het vasgeskop. Toe besluit oom Willem om vuur met vuur te beantwoord. Wanneer die tante besluit dis nodig dat die buurt na haar musiek luister, sit oom Willem boeremusiek aan. Met al sy klanktoerusting had oom Willem loshande die oorhand.

Nou, bygesê, die tante was nie maklik nie. Baie skeelhoofpyne, en selfs haar kinders, voor hulle met haar mag praat, moes eers by haar verneem of sy in ‘n aanvaarbare bui is. Oom Willem se boeremusiek het die allerverskriklikste uitwerking op haar gehad. Hy is oor die muur begil, maar die boeremusiek is eers afgedraai wanneer die Beatles gedoof is.

Die Amerikaanse tannie en haar gesin is Johannesburg toe, en oom Willem kerkhof toe. Maar die herinneringe aan hulle almal is baie vaag in vergeleke met die herinneringe aan oom Stan wat toe al lank oorlede is. En veral oom Stan se profetiese woorde oor die petrolprys. Want kort-kort word aan die petrolprys getorring en dan sien ‘n mans oom Stan weer so wydsbeen by sy grassnyer sit.

En wonder maar net hoe anders dinge sou wees as ons nou minder as ‘n rand vir vyf liter petrol sou moes opdok.

Herman Toerien