Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Oom Blackie se graf en die rygoed

Op sy blog bring Hennie van Deventer hulde aan ‘n oud-kollega van Volksblad, Sarel Venter.
Dankie tog, nie omdat Sarel die lewe afgelê het nie, nee, omdat Sarel ‘n geseënde 70 geword het. Herrie se eie spore het met dié van Sarel gekruis – die jintelman, die godsdienskenner, die oopkop…
Wie van Sarel en Herman le Roux, ook destydse hoofredaksielid en eertydse sportskrywer van formaat, die ordentlikste was, sal Herrie nie ‘n mening waag nie.
Hennie vertel voorts van hoe die SAUK destyds ‘n verslaggeefster met oom Blackie Swart se 80ste verjaarsdag na sy plaas, De Aap gestuur het.
‘n Paar jaar later is Herrie egter een van die jong verslaggewers wat hier en daar ‘n ietsie oor oom Blackie se begrafnis moes skryf. Eg Vrystater, word oom Blackie in Bloemfontein se intussen bykans vergete heldeakker begrawe. Skrootdiewe, ongelukkig, het nie van hierdie begraafplaas naas die teenwoordige Sentrale Universiteit van Tegnologie vergeet nie.
Herrie en ‘n fotograaf word gestuur om te gaan kyk of die graf al uitgemessel is. ‘n Uitgemesselde graf was ‘n nuwigheid vir Herrie se kennisveld, maar daar gekom, gaap die graf soos enige ander graf steeds in die rou Vrystaatse grond in. Oral in die omgewing is mense op die een of ander manier besig om voor te berei vir die begrafnis. ‘n Groepie militêre en munisipale verkeerspolisie (spietkops in Afrikaans) hou ‘n gesamentlike oefening op hul motorfietse. By geleentheid hou die motorfietse by die begraafplaas stil, en die manne oefen ‘n paar passies op droë grond. Toe klim hulle op hul ysterperde, en vertrek.
Almal, behalwe een. Hy draai die knormoer (nie sy skoonma nie, die “starter”) en dit tjsôi-tsjôi net. Skaars ‘n jaar tevore het iemand terwyl Herrie by die werk in Pretoria was, Herrie se eie ysterperd se enijinstop afgekakel. Herrie en al Herrie se vriende se tonge het al waar gehang voor ons agtergekom het wat aangaan. Miskien…?
Herrie stap nader: “Het iemand nie dalk jou enjinstop afgesit nie?”
Daai kyk wat Herrie gekry het, sal Herrie nooit vergeet nie. Gelykstaande aan minstens R30 000 se verkeersboetes.
Maar die spietkop loer darem na die enijinstop, draai die knoppie, skakel sy motorfiets aan en vertrek – duidelik ver bo die wettige spoed, om sy makkers in te haal. En seker die skuldige te seën.
Jare gelede lees Herrie ‘n storie – seker in Huisgenoot. ‘n Gesin het iewers gery, toe hulle by ‘n driffie kom waar ‘n ander gesin piekniek gehou het, maar toe hulle weer wou ry, die kar niks wou weet nie.
Almal, pa, ma, die kinders en die huishulp se gôe hang al uit van die slinger draai.
Die Samaritane hou stil, en verneem na die moeilikheid. Blaas-blaas en bloedrooi van die son en van die gesukkel, vertel die baas des staande kar van hul na-piekniekse lot.
“Gee jy om as ek kyk?”
“Nee, natuurlik nie.”
Die Pa-Samaritaan steek sy kop in die kajuit in, het skaars gevroetel, toe roep hy sy eie klong moet die slinger draai. Op slag vat die kar.
“Wat was fout?” wil rooigesig weet.
“Maar dit kan ek jou nie sê nie, want dan gaan jy kwaad vir my wees.”
“Maar nog so nooit nie. Kyk hoe het ons gesukkel en netnou gebeur dit weer en ons weet nie wat om te doen nie.”
Na ‘n lang gestry stem die Samaritaan in om te sê wat fout was, “maar ek sê nog julle gaan vir my kwaad wees.”
“Nog nooit gesien nie!”
“Julle het vergeet om die sleutel weer aan te draai.”
“Maar dit lieg jy!” bulder rooigesig.
Toe die Samaritane se kar oor die hoogte verdwyn, kyk oudste knaap vir oulaas om.”
“Pa, die hele lot wys nog vir ons vuis.”
Herman Toerien