Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Om te vergewe

Dis so belangrik om te kan vergewe. Maar dan moet dié storie ook nie (aspris) verkeerd verstaan word nie.
So stap ‘n vrou by geleentheid by ‘n apteek in Bethlehem in (nie die Hoekapteek nie) en vra vir die apteker ‘n dosis arseen.
Grootoog wil die apteker weet waarvoor.
“Vir my man injaag!” sê sy driftig!
“Nee mevrou,” keer die apteker. “U gaan in groot moeilikheid beland.”
“Die dominee het gesê ek moet my man vergewe.”
“Seker ‘vergewe’ soos in die Bybelse vergifnis, nie ‘vergewe’ soos die rotte op die plafon nie.”
Die vrou krap in haar handsak en haal ‘n foto uit wat wys hoe haar man saam met die apteker se vrou in die kooi kerjakker.
“O,” sê die apteker, “ek het nie geweet mevrou het ‘n voorskrif nie. Ja nee, die dominee is reg, mens moet vergewe.”
Ja, mense wend gif soms vreeslik aan, soms baie gevaarlik. Noudat die jakkalse weer so vreeslik aangeteel het dat jakkalse nou so waar voorbly by skaapdiewe sal die versoeking seker groot wees om weer gifskieters in te span. Met so baie tweebeen-jakkalse ook in omloop kan ‘n mens egter so maklik in die sop beland.
Oom Servaas-hulle het ‘n ander plan met ‘n klomp meerkatte probeer. Die waaiersterte het so aangeteel dat hulle sommer stukke van sy mielieland omgedolwe het om die pitte uit te grawe. Oom Servaas-hulle hul ore nou vir regtige slegte advies uitgeleen. Met groot moeite is ‘n klein meerkatjie gevang en die ‘n dinamietkers aan die stert vasgemaak. Maar die meerkatjie is te klein om die kers gate in gesleep te kry. Na beraadslaging word besluit dis minder moeite en gaan maak die meerkatjie groot genoeg by die huis, as om ‘n groter ene te probeer vang.
Op ‘n dag besluit Servaas die meerkatjie is groot genoeg. Dié is al vreeslik oorlams, het die naam, Kordaat gekry, en die kinders is dol oor hom. Dis ‘n behoorlike tranedal toe die meerkatjie gate toe geneem word om sy familie te gaan uitwis. Die kers word weer vasgemaak, en brand gesteek, en Kordaat naby die gate gelos. Maar die klein meerkat het min sinnigheid vir grondgate as hy tuis op ‘n kooi of agter die aga kan slaap. Hy vlieg kortom, agter Servaas aan. Servaas maak vir die bakkie, en haal die kajuit net voor Kordaat met sy vonkelende stert saam inspring. En hy jaag, met Kordaat agterna.
By geleentheid moet Servaas om ‘n windpomp ry, en die meerkat vat kortpad. Die dinamietkers haak aan een van die windpomppote vas, en haak af. Oomblikke later word die windpomp gelanseer.
Kordaat was nog voor oom Servaas by die huis, en het agter die aga gaan inkruip tot hy oor sy grootste skrik was.
Toe kry oom Servaas beter advies. Gooi net vir die waaiersterte mieliepitte by hul gate. So laag soos die mieliepryse toe was, hoe minder verloor mens hoe minder ‘n mens plant, in ieder geval. Dan bly die windpompe darem heel.