Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Om te kan boer

Ja, Suid-Afrika se boere het dit nie aldag te maklik nie. Die moordkoers onder boere en hul gesinslede is volgens Interpol omtrent tien keer hoër as die land se hemelhoë gemiddeld, veediefstal is ‘n krisis, gewas- en weidingdiefstal beloop miljarde rande per jaar, en dan is gereedskap iets wat vanself wegstap – ‘n hele paar miljoen rand per jaar se skade. R204 miljoen net in die Vrystaat om presies te wees, amper tien jaar gelede. Met inflasie sal dit seker nou bietjie meer wees.
Inflasie het ook die ou grappie wat Herrie al op laerskool gehoor het, bygedam. Twee boere gesels oor hul grensdraad. “Wat sal jy doen as jy nou ‘n R100 miljoen present kry?” vra die een buurman. Die ander dink ‘n rukkie: “Ek sal die koöperasie en die bank betaal, my plaas verhuur, vir my ‘n lekker strandhuis koop en by die see gaan aftree en elke dag gaan hengel. En jy?”
Die ander buurman dink ‘n rukkie: “Nee, ek dink ek sal maar aanhou boer tot dit ook op is.”
Ouma Meyer was altoos willebooslik kwaad as ‘n mens ‘n grappie oor ‘n boer gemaak het. Gelukkig kan die boere vir hulself lag, soos wat hulle met ‘n lekker kuier ook vir ander dinge kan lag.
‘n Boer moet kán, want anders kan jy nie boer nie. Hoe nou anders? Atterjan kom te voet uit die veld. Hy het met die trekker gaan vasval. Die boer stuur solank vir Skewes met ‘n ander trekker en kabel om vir Atterjan en die trekker uit te sleep. “Maar moenie tot te na aan die trekker ry nie,” maan die boer nog eintlik heel onnodig. ‘n Rukkie later is die boer, neef Ferdie, klaar met sy rondtes en ry self na die plek toe om te kyk hoe word gevorder. Daar staan die twee trekkers langs mekaar amper tot by hul skoorstene in die modder weggesak. Van nie te naby kom nie, was die ore maar bot toe. Nog iets anders was ook bot en toe.
Dus ‘n trekker gaan leen (want dus ‘n wildboerdery en trekker nie so volop nie) om die twee trekkers uit die modder te sleep.
Kom die kroos op universiteit om ook landbou te kom swot, is die manne maklik uitkenbaar, aldus ‘n landbouproffie. Dis nou die manne wat so deur die kampus sleep met ‘n Toyotabakkie onder die arm vasgeknyp.
Groot Herrie se kop staan ook boerdery toe. Omdat hy nie ‘n plaas het nie, het hy ook nie ‘n Toyotabakkie nie, en is dit ‘n rooi Bantam wat hy onder die arm vasknyp.
En as sy planne uitwerk, gaan hy met beefalo’s boer – kruisings tussen beeste en bisons.
En, so verneem ons, ‘n beefalo laat hom nie sommer steel nie. Groot Herrie wil ‘n deel van sy meesters toespits op die beste tegnieke om beefalo’s te leer om skape en gereedskap op te pas.
Wonderlike goed wat die Indiane uitgevind het. Behalwe mielies en aartappels, tamaties en pampoene, en selfs boontjies, lees Herrie nou die dag van ‘n glutonvrye graan wat hoog in die Andes, waar dit te hoog en die grond te arm vir mielies is, geplant word. Daar is soveel mense wat weens outisme of ander gestremdhede, of allergie vir gluton, wild spook om ‘n glutonvrye dieet te kan volg – en die Indiane het al eeue lank die oplossing!