Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Om ‘n trol te vang

Dis baie sleg vir iemand wat sy hand aan die pen slaan om nie soms ‘n vorm van terugvoer te kry nie. Kyk maar hoe omgesukkel was die boere juis vir oom Dirk se Grondsake oor die lotjie se skynbare onvermoë om selfs op berge korrespondensie te antwoord.

Of om vir die misipaal kopie na kopie van ‘n kwitansie te faks oor ‘n misipale rekening wat wél betaal is, maar maand vir maand as debiet op die rekening bly vassteek. Kaderontplooiing noem hulle dit. Terwyl mens ‘n rekening so groot soos daai “uitstaande” bedrag aan telefoonkostes en die kry van verwysingsnommers oploop om te keer dat hulle nie “dienste” aan ‘n mens se erf opskort nie.

Maar af en toe kry ‘n mens op ‘n onverwagse plek terugvoer – en sommer ‘n bonus ook. Herrie loop toevallig een van daardie webwerwe raak wat in die lewe geroep is om Afrikaans te help bevorder. Hierdie webwerwe en blogs is vreeslik pro-Afrikaans maar hulle wissel van die verminking van Afrikaans met frot spêlings tot die puik inspan van die skoonste taal. Dié webwerf waarop Herrie afgekom het is puik.

Hulle het een van Herrie se stories “gelig” en daar was toe heelwat kommentaar. In die storie wys Herrie onder meer na die keer toe klein Herrie, wat outisties is, graag ‘n “twakie” wou hê. Sy ouers is te vlak om agter te kom wat dit is, toe maak hy vir hom een van weggooipapier – ‘n drakie. Dié drakie, wat hy later tot ‘n mensgrootte draak uitgebou het, het toe maar die naam Twakie gekry.

Een van die mense wat reageer, vertel toe van die insident wat ‘n vriendin se Downs-seun oorgekom het. Daardie seun, so blyk dit, is ‘n regte, egte hemelkind.

Op ‘n dag bel hy sy ma opgewonde by die werk. Hy het ‘n trol gevang en in die kas toegesluit, vertel hy. Sy ma, wat sy ryke verbeelding ken, sê toe maar hy moet vir die trol melk en koekies gee, sy kom na werk kyk.

By die huis gekom, suiker sy agter die opgewonde seun aan kamer toe waar hy die kas oopmaak, en ‘n brieskende, kort verkoopsmannetjie uitklim. Die mannetjie het ewe onskuldig aan die voordeur kom klop en die ervaring van sy lewe in ruil daarvoor gekry.

Dit het amper hofsake afgegee, skryf die vrou, waarop ‘n ander reageer en sê gelukkig het die ma darem vir hom koekies en melk voorgeskryf. En hemelkind wat die seun was, sou die arme man ook daardie “versorging” te beurt geval het.

Klein Herrie het al die mees verstommende dinge met sy hande gemaak. Einste Twakie had ‘n papiervlam wat regtig uit die bek kon kom. Van Kleins af bou Klein Herrie die mooiste modelle van huise uit kartonbokse, met die ongelooflikste detail, soos die baddens, wasbakke en die immer teenwoordige TV – want as ‘n man nie eintlik kan praat nie, dan kyk ‘n man. Pas het een so ‘n huis nog ‘n verdieping bygekry, en die jongman oordeel dan moet dit nou ‘n hysbak kry. En ja, daar is nou ‘n hysbak in wat regtig met die hand kan op en af beweeg.

Elke outistiese lyer is uniek, en Klein Herrie floreer op drukkies. Op sy manier ook ‘n regte hemelkind.

Herman T oerien