Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Om jou leeftyd te oorleef

Die week het die name bekend geword van die amper 30 straatname in Pretoria wat in die slag bly. Herrie wys een uit, Jacob Maré, en nee, nie omdat dit na familie van Vrystaat re redakteur Susan Maré vernoem is nie.

Nee, Herrie meen die stadsvaders van Bethlehem sal goed doen om ‘n straat in dié dorp Susan Marésnelweg te noem, want om reg te laat geskied aan iemand wat al soveel joernalistieke erkennings soos sy gekry het, is ‘n eer vir Bethlehem en die Oos-Vrystaat. Pas weer is Vrystaat as finalis vir ‘n ATKV-veertjie benoem. ‘n Snelweg beeld haar werksywer die beste uit

Jacob Maré was ‘n ZAR-volksraadslid wat aanvanklik by Potchefstroom aan die Mooirivier geboer het. Hy was die pa van Sarie Maré, wat met die joernalis uit die eerste Afrikaanse taalbeweging, Jepete Toerien (nie familie van Herrie nie), getroud is. Die egpaar het hulle in Middelburg gaan vestig, waar Jepete die pro-Afrikaanse koerant, Die Republikein, gestig het.

Terwyl hy in die ABO op kommando was, het hy die woorde van My Sarie Marais geskryf. Die meeste van Jepete se skryfwerk, wat ook gedigte in Afrikaans, Nederlands en Engels ingesluit het, het saam met sy drukpers afgebrand.

En al gaan Jacob Maré nou kort voor lank so vergete soos sy skoonseun wees, sal Sarie danksy die liedjie nog lank voortleef.

Iemand wat op ‘n besondere manier sy leeftyd oorleef, is die Bethlehemiet, Jan Pieterse, wie se lewe in ‘n fliek verewig is. Jan was met sy motorfiets van ‘n Mighty Men-saamtrek onderweg, toe hy verongeluk het. Sy, en sy gesin, se lewe is nou opgeneem in die rolprent, Ordinary People, wat FC Hamman en Angus Buchan vervaardig het.

Elke mens oorleef sy lewe, en so lyk dit, die uitdaging is om daardeur op die nageslag ‘n blywende, positiewe indruk te laat.

“My pa het hom besimpeld gesuip en sy gesin erg aangerand, daarom sit ek nie my mond aan drank nie.” Nee, Herrie dink nie iemand wil graag so ‘n herinnering nalaat nie.

“My pa is al 35 jaar gelede oorlede, maar ek leer nog elke dag iets wonderliks by hom.” Dis hoe elke ouer sy opvoedingstaak moet beskou, en hoe Herrie Pa Jan onthou.

Dan is daar ongelukkig ook hulle wat hul gesinne lewend ontval.

En nie net gesinne nie. Raadslede, wat pas na hul verkiesing, hul wyke lewend ontval en net die moeite doen om stadsraadsvergaderings by te woon om die aantekenregister te teken, sodat hulle darem nog hul milde toelaag ontvang. Ja, Herrie het al ‘n raadslid gehad wie se profiel so laag was, dat toe iemand anders na die volgende verkiesing oorneem, Herrie se wyk al van die begrotingsiklus verwyder is.

Dis ook veral interessant om te kyk waarvoor politici onthou sal word. Langenhoven, as parlementslid, moes sy woorde dat die helfte van die lede esels is terugtrek. Dit het hy gedoen deur te verklaar die helfte is nié esels nie. Ander was mildeliker in “promises” maak as ander. Johny de lange sal onthou word vir die lieflike haakhou waarmee hy ‘n NP-politikus op sy edele bas op die parlementsvloer laat beland het, en binne-in die ANC in gemoker is. Nog een se keurige, geknoopte taalgebruik het haar tydelik die trekpas besorg. Vrystaatse politici het ewe gevleuelde woorde geuiter: “As ons almal wat korrup is moet afdank, hoe gaan ons ooit regstellende aksie toegepas kry?” Nog ‘n premier: “Maar ons moet sulke duur rygoed ry, want kyk net hoe lyk die paaie waarop ons moet ry.”

‘n Premier van Mupumalanga sal altyd onthou as die man wat gesê het dis in die haak vir politici om kluitjies te bak. Ironies, het hy hiermee waarskynlik ‘n slag die waarheid gepraat.

Herrie is darem self ‘n slag lekker deur ‘n politikus se vrou kluitjies gevoer – haar man is nié oor die wapens in die mielieland gearresteer nie, het sy verseker. Hy is by haar hier in die huis. En so is Volksblad straat toe met die hoofopskrif dat die arrestasie-gerug onwaar is. Net om volgende dag Beeld se opskrif te sien dat die man inderdaad reeds agter tralies was toe sy vrou so wyd met die waarheid omgegaan het. Die moeilikheid is, tannie, Herrie glo tannie nou ook nie oor hoe ‘n voorbeeldige man u man was nie.

Ja, ‘n mens is gelukkig as hy die ondermaanse verlaat en die herinneringe is mooi.

Gemengde herinneringe sal daar ook wees, soos die mooi herinneringe aan ‘n legendariese burgemeester. Maar die beeld van hoe hy broekloos deur die strate suiker na ‘n munisipale amptenaar die edele by sy vrou aangetref het, sal ongelukkig ook nie uit Herrie se ondermaanse herinneringe verkas nie.

Herman Toerien

One Response to Herrie se kerrie: Om jou leeftyd te oorleef

  1. Corine de Jonge

    Junie 8, 2015 at 1:17 pm

    Wanneer was die Republikein ‘n koerant in Middelburg?

    Volgens my inligting het hy die Middelburg Herald besit (onder andere). Maar nerens kry ek iets oor die bestaan van die Republikein in Middelburg. Help asseblief met meer inligting oor Jepete se KOERANT verbintenis met Middelburg.

    Sy graf is deur Kyknet (Kwela) opgeneem vir uitsending op 24 Junie.