Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Met die maan gepla

In die jaar 2012 sou ‘n mens dink dat die mensdom se kennisveld ‘n bietjie meer gevorderd is as ‘n 100 of 200 jaar gelede. Nou skaaip selfs die ouer mense met hul kinders wat oorkant die groot waters woon.

Tweehonderd jaar gelede het die Amerikaners en die Britte mekaar in ‘n oorlog aangedurf, en toe die laaste veldslag twee jaar later plaasvind waartydens 2 000 Britse soldate en agt Amerikaners dood is, was die vredesverdrag al ‘n paar weke tevore in Gent, België, geteken. Die e-posse het destyds nog dikwels met die mikstokkie gekom.

Maar dat kommunikasie nou so knap is, beteken nie almal laat hulle behoorlik inlig nie. Die ontkenners maak van dieselfde tegnologie gebruik, en die mense wat glo die Amerikaners was nog g’n ooit op die maan nie, dat Vigs in ‘n Amerikaanse laboratorium ontwikkel is – trouens, mense wat in die mees bisarre goed glo, of wat nie in die mees logiese goed glo nie word al hoe meer.

Herrie dog nog dis snaaks dat ‘n Russiese vuurpyl wat ‘n satelliet moes lanseer, ‘n mishêppie gehad en op ‘n huis in Siberië loop val het – ‘n huis wat in Kosmonautstraat van alle strate gestaan het, toe lees Herrie die Amerikaners soek mense om te help soek na tekens van lewe op die maan.

Al is Herrie een van die mense wat vas glo Louis Armstrong was nog nooit op die maan nie, het Herrie aanvaar dat dit ou nuus is dat daar g’n teken van lewe op die maan gevind is nie. Want Herrie glo darem Niel Armstrong en ‘n klomp ander Amerikaners was op die maan en het ‘n vreeslike klomp maanrots saamgebring.

Maar as die leser nou nie die Louis Armstrong-“blapsie” raakgesien het nie, moenie sleg voel nie. In 2009 is ‘n peiling onder ‘n 1009 Britte gedoen. Agt van hulle het gemeen Louis Armstrong was die eerste maanwandelaar. Maar meer insiggewend, ‘n kwart van die Britte het gemeen die maanreise was ‘n gekskeerdery (hoax), en het nooit plaasgevind nie. Elf persent het gemeen Buzz Lightyear was die eerste man op die maan (mense met klein kindertjies sal waarskynlik weet wie Buzz Lightyear is).

Herrie gaan lees toe op. Ja, twee Amerikaners is werklik op soek na mense wat sal help soek na lewe op die maan. En nee, hulle betaal nie die reiskoste nie. Trouens, niemand gaan volgens hul plan maan toe nie.

Paul Davis is hoof van die Arizona State University se Beyond Center for Fundamental Concepts in Science. Hy word bygestaan deur Robert Wagner. Nee, nie daai Robert Wagner nie, maar ‘n voorgraadse bleeksiel. En dis bloot toevallig dat Arizona nie ver van Roswell af is nie.

Hul voorgestelde metodiek sluit in om vrywilligers wêreldwyd te kry wat op hul rekenaars die foto’s wat deur die Amerikaanse Lunar Reconnaissance Orbiter vir tekens van lewe sal fynkam. Dié tuig het sedert 2009 al amper ’n halfmiljoen foto’s geneem, en dis bietjie baie vir die wetenskaplikes om self deur te werk. En nee, hulle soek nie na groen mannetjies wat vir die ruimtetuig waai nie, maar na artefakte of tekens van mynbou wat dalk kon agterbly van eertydse besoeke van ET of Alf.

Omdat die maan nie ’n atmosfeer het nie, is daar bloedweinig erosie, en sal sulke spore van ET-aktiwiteite vir miljoene jare sigbaar wees.

En al meen die navorsers die kanse is “baie skraal” dat enige tekens gevind sal word, meen hulle die koste verbonde aan so ’n soektog is minimaal.

Dit sal ook nie die eerste keer wees wat die wetenskaplikes vrywilligers en hul tegnologie inspan nie. Met die bekende SETI-projek, wat na kunsmatige seine uit die ruimte soek, word al lank van vrywilligers gebruik gemaak. Vrywilligers is ook reeds besig om maanfoto’s te bestudeer vir tekens van rotsstortings en ander interessante natuurlike maanaktiwiteite.

Wat Herrie eintlik maar net weer voor die ironie stel: Vandag weet ons al taamlik goed wat miljoene ligjare die ruimte in gebeur … ons kry al hoe meer planete buite ons eie sonnestelsel terwyl ons self nou so baie het dat ons Pluto en ‘n paar ander as planete kon weggooi.

Maar hier op moeder aarde weet ons nog byna niks van ons planeet nie. Wetenskaplikes is ontsteld omdat Italië ’n groep wetenskaplikes verhoor omdat hulle nie ’n stewige aardbewing raak voorspel het wat die dorpie L’Aquilla in 2009 getref het nie.

Die konsensus is ons beste wetenskap is nog nie in staat om aardbewings te voorspel nie, en allermins akkuraat te voorspel nie. En soms weet ons nie eens wat die aardbewings veroorsaak nie. Vir honderde jare kom daar sulke swerms ligte aardbewings in Arkansas in die VSA voor, maar niemand weet presies wat dit veroorsaak nie. In Suid-Afrika moes die moontlikheid van aardbewings in die ontwerp van die Van der Kloofdam ingebou word, omdat die Luckhoff-omgewing gereeld deur ligte aardbewings geskud word – maar niemand weet ook vir seker wat dit veroorsaak nie. Nou is die Augrabies-omgewing by hierdie vreemde herkoms-groepe gevoeg, en daardie aardbewings ontstaan maar taamlik vlak onder die aardkors – sowat 5 kilometer. Die diepste myne is maar sowat 4 kilometer diep. In die Fidji-omgewing is die episentrum dikwels in die orde van 500 kilometer diep.

Ja, die mens het ’n baie beter vermoë om na bo en Bo te kyk as na ondertoe en Ondertoe (geen sinspeling op Doer Onder nie) … maar ons sukkel om een dag per week die kerke vol te maak, terwyl die WilleBoer aand vir aand uit sy nate bars. Die kerke se kollektesakkies wil dikwels nie regtig vol nie, terwyl die pimps en hul dames van die nag flink sake doen. En die dwelmverwante gevegte gereeld die polisie se nuusbrief haal.

Gelukkig is daar ook mooi verhale van vol kerke, van kerke se koskaste wat soos die weduwee se kruik nooit leeg word nie…

Mag ons in 2012 mooi die oog na Bo hou. En so die nood om ons self raaksien en nie onaangeraak gelaat word nie.

Herman Toerien