Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Maanskyn en rose vir hoofkees?

Op die oog af het ‘n bobbejaantrop se alfa-mannetjie ‘n soort hemel op aarde. Genoeg wyfies om van te kus en te keur, genoeg om te eet, genoeg hande wat vlooie soek of sommer net die jeukerigheid met ‘n lekker krap in die heerlikste kreungenot te omskep.

Maar, het Amerikaanse navorsers in Kenia bevind, saam met ‘n hoë voorkoms van testosteroon kom ook hoë vlakke van streshormone by dié alfa-mannetjies voor. Soortgelyke vlakke van streshormone kom onder die bobbejaanmannetjies aan die onderpunt van die statusleer voor, maar hul vlakke van testosteroon is veel laer. So, minstens is daar darem ‘n voordeel in om die groot bobbejaan te wees.

Herrie was nog altyd verstom oor waaroor alles navorsing gedoen word. So sal daar seker ook nuttigheidswaarde wees vir die studie oor die bobbejane, maar om daardie nut polities korrek verkoop te kry gaan ‘n onderhandelaar van groot vernuf verg, veral in Suid-Afrika waar daar ook soms ‘n korrelasie is tussen posisie en aantal vroue.

Van die streshormone weet Herrie nie so mooi nie.

Maar nou verstaan Herrie hoekom ‘n bobbejaanmannetjie hom ongenooid by oom Wimmie as skaapwagter kom aanmeld het. Hy kon die stres as bobbejaanpresident nie meer vat nie, en neem toe die nederigtste van nederige betrekkings op – skaapwagter. Net bietjie oorywerig en so het van die skape seergekry soos hy hulle nie betyds laat draai het nie en hulle in die doringdraadheinings beland het. Hy het toe die trekpas gekry. Hy boemel seker nou.

Soms klink dit vir Herrie die wêreld word aspris te kompleks gemaak. Die Nederlandse skrywer, Robert Anker, meen in sy nuutste boek, Oorlogshond, egter weer die wêreld word “te veel versimpeld.”

Wat is die antwoord? In België gaan fietsryers dalk binnekort nie meer by rooi verkeersligte hoef stil te hou nie. Vir Herrie klink dit na ‘n gawe plan, veral na Herrie een nag laat na ‘n KJA-ding, met geen verkeer iewers in sig nie, op sy fiets by ‘n rooi verkeerslig gevang is. Veral teen ‘n opdraande – om te moet stop, en dan weer hard te moet trap om momentum te kry, is stop maar ‘n moeilike ervaring.

Die voorwaarde natuurlik is dat daar darem steeds kompleksiteite moet geld, soos dat die fietsryer moet kyk of daar nie motors na die kruising op pad is vir wie die lig groen is nie. Want ‘n fietsryer is baie, baie blootgestel.

PH Nortjé skryf ook in sy Groen Ghoen van die twee omies wat niks wou weet van links ry toe links hou verpligtend geword het nie. ‘n Mens ry mos aan die kant van die pad wat die beste is. Tot hulle eendag teen ‘n hoë spoed bo-op ‘n knop by mekaar verby is – elkeen aan die regterkant van die pad.

Herman Toerien