Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Loodswaaikampioen

Die Nederlandse media was dié week baie bly om aan te kondig dat hul land darem ‘n baie onplesierige Europese titel kwyt is – dié van siekteversuimkampioen.

Finland is as die nuwe kampioen gekroon, gevolg deur Denemarke, met die Duitsers wat met die bronsmedalje tevrede moes wees.

Die Europese lande wat die minste siekteversuim aan die dag lê is Griekeland, Spanje en Portugal, wat deur die Noord-Europese lande as die loodswaaikampioene beskou word.

Herrie kon darem nie iets raaklees wat dui op ‘n tonguitstekery van die Suid-Europese lande wat sê die syfers toon onomstootlik dat harde werk sleg vir ‘n mens se gesondheid is nie…

Waar Suid-Afrika in die prentjies gaan pas, weet Herrie nie. ‘n Mens moet immers werk hê om siek van die werk af weg te kan wees, en as mens vir jouself werk en weens siekte nie kan werk nie, is daar ook nie kos nie.

Maar Suid-Afrika kompeteer wel in verskeie opsigte om kampioen te wees.

Miskien nie loodswaai nie, maar loodsaai. En dis ook nie net die renosters wat onder die loodsaaiery deurloop nie. Meksiko is ontsteld omdat die moordkoers in daardie land drievoudig meer geword het na die owerheid in 2005 oorlog teen die dwelmkartelle verklaar het. Dit het nou tot ‘n afgryslike 24 per 100 000 per jaar van die bevolking gestyg.

Maar Suid-Afrika kan sê daai is nog niks – in onse land het dit weer afgekom en staan nou “net” op 32 per 100 000 per jaar. In 2005, toe Meksiko se koers op 9 per 100 000 gestaan het, was Suid-Afrika s’n 40 per 100 000 per jaar. Meksiko gaan dus nog ‘n jaar of twee vat om met ons saam te kan gesels.

Die Meksikaanse kartelle kan skynbaar ook nog by die Wes-Kaapse bendes kom “les vat.” Daar het die moordkoers na 44 per 100 000 per jaar afgeneem, na dit in 2004 nog 63 per 100 000 was.

Tensy die Meksikane ook nie so goed soos ons kan tel nie…

‘n Kaliforniese instituut het die $100 000 opgeraap wat Bill Gates uitgeloof het vir die ontwerp van ‘n higiëniese toilet wat nie aan waternetwerke gekoppel is nie. Nou word nog miljoene dollar ingepomp vir die ontwikkeling en bemarking van die toilet wat met sonkrag werk, water hersirkuleer en energie uit die “produk” oplewer.

Ai, as Gates maar net gevra het: die Suid-Afrikaners het al lankal so ‘n waterlose gemakkie ontwikkel. Ons noem dit die kleinhuisie, of te wel die longdrop. En as daar ‘n gaatjie in die dak is en dit reën, sirkuleer daar ook water.

Vir eeue lank was die mensdom met die maan gepla, maar deesdae is dit meer ‘n geval van “met Mars gepla.” Die mens het nog nie eens sy voete op die rooi planeet gesit nie, of hy gee al name. Die plek waar Curiosity met sy ruimtehyskraan neergesit is, is na ‘n wetenspasfiksieskrywer vernoem. Herrie sit toe dadelik ’n versoekie na Nasa in om te verneem of daar nie dalk ‘n ietsie is wat na Herrie vernoem kan word nie, en kry terstond, nogal in Afrikaans (met ‘n Namibiese aksent) ‘n stemboodskap terug: “Ja, wat van Herrie se krater? Jy is mos die ou wat so baie ‘n krater van jouself maak?”

Herman Toerien