Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Lang vingers

Die jongste misdaadstatistiek het toe mou nie vir die Oos-Vrystaat veel goeie nuus ingehou nie. Veediefstal, wat in die Oos-Vrystaat ‘n yslike kopseer is, het landswyd toegeneem. Of, soos ‘n vorige prez sou gesê het, dit word nou beter aangemeld…

Nog iets wat landswyd gestyg het is “diefstal nie elders vermeld nie.” Dié week kry Herrie ‘n kennisgewing per e-pos, oor ‘n masjien wat die Japannese gebou het om diewe mee te vang. Na die prototipe voltooi is, is dit in verskillende dele van die wêreld getoets. In New York het die masjien in ‘n halfuur 200 diewe gevang. In Skotland is binne ‘n halfuur 20 aangekeer, en in Uganda 400. In Suid-Afrika was dit nie vyf minute nie, toe is die masjien gesteel.

Herrie dink die Oos-Vrystaatse veediefstalvang-“apparaat” is die beste. Lesers sal seker onthou van die veedief wat so ver gejaag is en toe uiteindelik aangekeer is waar hy onderin ‘n longdrop se put probeer wegkruip het. Natuurlik, teen daardie tyd wóú niemand hom eintlik meer vang nie – in elk geval nie voor hy buite met die tuinslang skoongespuit is nie.

Die week val Groot Herrie by sy eerste voltydse werk op ‘n plaas buite Bothaville in. En natuurlik lei Herrie aan leënessindroom. Toe Vrystaat se lesers die eerste keer van hom en sy oupa Nic se doen en late begin lees het, was hy nog Klein Herrie.

“Klein” Herrie is egter hoërskool toe met ‘n paar nommer 13 skoene aan die voete, en hy het al lankal by Herrie en mev. Herrie verbygerank. Hy het Groot Herrie geword, en kleinboet het Klein Herrie geword. Maar Klein Herrie is ook al lank by pa en ma verby.

Dis soveel jare sedert ouboet homself wysgemaak het “die pikkenwyne” is iets waarvoor mens baie lugtig nie wees. Eintlik is Groot Herrie al lankal groot – hy het al een vakansie ‘n wildsplaas gaan oppas sodat die bestuurder en sy gesin kan gaan vakansie hou. En as die liefde vir die landbou in ‘n mens se are bruis, en daar is ‘n halwe kans …

Herman Toerien