Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Kraai nie al te fraai

Groot Herrie het ‘n oumatjie aangeneem – ‘n tante wie se kinders ver weg getrek het. Geloftedag gaan haal hy die oumatjie, uitgehonger vir geselskap.

Die nostalgie loop sterk – van haar jong dae. En die bonte verskeidenheid diere wat sy as kind en jong getroude gehad het – van mak varke wat goed huisgemanierd in die huis gebly het, ‘n hond wat saam kerk toe is en op die onderste trappie van die preekstoel lê en slaap het onder die diens, ‘n boerbok wat al te orig op mense se karre geklim het, ‘n kalkoen wat graag een van die huismense in die buite-toilet vasgekeer het…

In ‘n stadium het hulle tegelyk ‘n kokketiel en ‘n kraai gehad. Die kraai het los geloop en gereeld op die huis se dak gesit, terwyl die kokketiel in die huis op hok was. Beide ewe bekkig.

Kom een van die kinders van die skool af, sal die kraai luidkeels aankondig: “Hier kom Dirkie!” Dan laat hoor die kokketiel uit die huis: “Jy lieg!”

Maar die kraai was nogal nougeset op die juistheid van sy mededelings, en kort voor lank is Dirkie in die huis.

En hoewel Kraai die een buite was, en die baas van die huis se woordeskat moes aanhoor wanneer die gras gesny word, is dit die kokketiel wat my sy fyn ore daardie ongewenste woordeskat opgedoen het. Boonop was die oom baie lief vir moerkoffie, wat hy voortdurend bestel het. Die kokketiel het dit opgetel, maar om die een of ander rede gewoonlik die koffie-deel weggelaat.

Die kokketiel is naderhand vir ‘n ouderling gegee, en ja, nie lank nie kom berig die ouderling se seuntjie oor die kokketiel se woordeskat.

Wat nie beteken het Kraai was besonder voorbeeldig nie. Maandae en Vrydae op Bothaville was wasdag, en destyds was die rooigrond en spierwit lakens nog algemeen. Dan het Kraai sy rondtes gevlieg en gaan wasgoedpennetjies steel, met die gevolg dat talle spierwit gewaste lakens in Bothaviille se rooi grond beland het. En vir diegene wat daai rooi grond nie ken nie – dis soos verf op wit wasgoed, dit het nie sommer met doerrietyd se handdraai-wasbalies uitgewas nie.

Boonop het Kraai ‘n vreeslike voorliefde vir sokkies gehad, en die het hy van heinde en verre aangevlieg huis toe en sy buit by die voordeur se matjie kom “deponeer.”

Maandae en Vrydae het Kraai dus naderhand noodgedwonge op hok gesit. Om alles te kroon had daai einste kerkgaande hond ‘n voorliefde vir voordeurmatjies gehad, en gereeld moes die huismense met ‘n stapeltjie matjies die dorp deur om te gaan matjies terugbesorg.

Dis eintlik verbasend hoeveel soorte voëls kan ander geluide namaak. Verskeie soorte voëls kan selfoonluitone namaak, daar is ‘n soort voël wat ‘n ambulans se sirene kan namaak, en voëls wat ander voëls flous deur hul geluide na te maak.

Trouens, lees Herrie, daar is voëlkundiges wat bekommerd is dat sommige soorte voëls hul natuurlike geluide kan verleer, en daarom word opnames van hierdie geluide gemaak en in museums gebêre, sodat wanneer ‘n voëlsoort sy eie klank verleer het, dit weer vir sy nageslag teruggeleer kan word.

Miskien het Herrie ook nou ‘n verklaring oor hoekom die een sokkie van ‘n paar so geneig is om weg te raak. Herrie dag al die tyd dis daai ding wat in die kaste woon en sokkies vreet. Altyd net die een van ‘n paar. Nou het Herrie ‘n spesmaas dis ‘n nasaat van daai sokkiedief wat doenig is.

Wil iemand nie maar tog ‘n paar kraaie afrig om daai mense by die misipaal te gaan pik wat ‘n mens se krag- en waterrekenings so opmors nie? ‘n Mens moet besonder talentvol wees om dit so te kan opmoerkoffie soos wat ons dit nou in die nuwe metro van Mangaung beleef. Metropolitaanse probleme.

Herrie se kragrekening is na maande nog nie opgelos nie, en Herrie dreig nou al van prosedeer na die kwitansies al omtrent ses maande lank pligsgetrou gestuur is om te bewys van hét betaal, of Herrie tel op Geloftedag ‘n papiertjie in die tuin op. Dis ‘n kennisgewing van die misipaal dat die Herries se water op 12 Desember afgesny word weens wanbetaling.

Maar blykbaar kan hulle nie eens die water afgesny kry nie, want die Herries het nog water, én ‘n kwitansie wat wys die Herries het heel betyds kontant betaal. By ‘n ander vrou, ook met kwitansie, is die water egter wél afgesny.

Noudat Herrie mooi oor die saak dink, daai kraai moenie net geleer word om sulke amptenare te gaan pik nie, die kraai moet sommer met ‘n boerboel gekruis word. ‘n Kraai wat behoorlik kan byt terwyl hy die amptenaar verbaal uittrap – met die kokketiel se woordeskat – oor die onbekwaamheid.

Herman Toerien