Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Kom dié inligting van Mars af?

Curiosity het nog skaars sy ding op Mars begin doen, of die mensdom word met sulke vreemde inligting gevoer dat ‘n mens onwillekeurig wonder of dit nie dalk ook deur die slim karretjie van die rooi planeet af gestuur word nie.

‘n Nederlandse navorser het laat blyk dat ‘n mens ‘n hele kilogram bakterieë met hom saamdra. Die meeste is heel onskadelik, maar ongelukkig skuil daar in die mens se ingewande ook skadelike bakterieë wat veral die oues en swakkes kan pak.

Nou kan die boksers, stoeiers en judokas wat by die Olimpiese Spele so gesukkel het om hul gewigsgrense te haal, nie dan maar net ‘n stywe dop antibiotika wegslaan en so ‘n hele kilogram afskud nie?

Baie van die bakterieë is weerstandig teen antibiotika, en dit gaan nie so maklik wees nie. Of is antibiotika ook op die lys van verbode middels?

Maar dalk is daar goeie nuus vir sommiges wat die skaal laat kreun. ‘n Span Britse navorsers het vasgestel hoe meer gespanne ‘n man is, hoe sagter val die voller vroulike figuur op die oog. Binne perke, sê die navorsers. Die redes hiervoor is nog nie heeltemal duidelik nie, maar hulle vermoed ‘n vrou wat nie ‘n perdebylyfie het nie, boesem bietjie meer vertroue vir die slae van die lewe in, en dis wat ‘n man nodig het wat deur allerlei probleme geteister word wat hom gespanne maak.

Seker dié dat die verpiepte mannetjie wat voor republiekwording in Calvinia se stadsaal wou weet wie ons nou gaan beskerm, tjoepstil was toe die groot tante agter hom hom plat op sy stoel, en die stoel plat op die grond druk en vir hom sis: “Sit st%$nt, ék sal jou beskerm!”

Die slegte nuus is dat die navorsers nie gekyk het of ‘n vrou wat gespanne raak, ‘n sagter oog op ‘n man met ‘n bierpens werp nie…

Dalk het die navorsers geweet vroue gaan nie vir daai een val nie. ‘n Nieu-Seelandse navorser het immers weer vasgestel vroue het van vanjaar af gemiddeld ‘n hoër IK as mans. ‘n Eeu of so gelede was mans se IK nog vyf tellings hoër as dié van vroue. Dié navorsingsresultate is egter bekend gemaak nog voor Curiosity by Mars aangekom het, en tensy Curiosity iewers langs die pad by ‘n asteroïde gaan wiele rek het, moet dié inligting as van aardse herkoms hanteer word.

Terwyl Curiosity vir ons moet vertel wat op Mars aangaan, krap geleerdes nog oor genoeg dinge hier kop. Onlangs het navorsers vasgestel die geraamtes wat in ‘n Londense massagraf gevind het, is nie tydens 1315 – 1317 se Swart Dood oorlede nie, maar amper ‘n eeu tevore weens ‘n vulkaniese uitbarsting. Die probleem is net, waar was dié vulkaan? Aan swaelneerslae wêreldwyd kan afgelei word dit moes min of meer op die trope gewees het, en ongeveer agt keer soveel swael as Krakatoa afgegee het. Krakatoa se knal kon tot 4 800 kilometer ver gehoor word.

Wetenskaplikes het al lankal geweet die Mayas het al sowat 3 500 jaar gelede sjokoladedrankies genuttig, maar daar is nou eers vasgestel dat hulle al 2 500 jaar lank sjokolade geëet het – waarskynlik as sousie oor ‘n lekker vleisgereggie.

Australiese navorsers het vasgestel dat mense wat voltrek weier om te glo die klimaat is aan die warmer word, ook geneig is om in samesweringsteorieë te glo. Maar hoe nou gemaak met die afgelope tyd se koue en sneeu? Is daar nou nog meer mense wat alewig oor hul skouers loer om te kyk watter sameswering besig is om op hulle toe te sak? Nee manne, na julle die nag opgestaan het om die warm water ‘n slag deur die pype te laat loop, gaan kruip tog veilig agter vroulief in en voel beskut – hulle is immers nou te slim om te val vir die samesweringsteorieë.

Van koue gepraat. Met die koue en sneeu versprei iemand die storie op die sosiale netwerke dat dit in die Vrystaat so koud is, dat die boere twee kortbroeke oor mekaar aantrek. Blikore kan grappies vat, maar naderhand is een beswaard dat so met die Vrystaters gespot word. Maar as mens nou van liggeraak wil praat. Wag tot die Blou Bulle op die Vrystaatstadion kom speel en vra vir ‘n Bul-ondersteuner wat al bietjie deur die likiede bates weggevoer is, hoe hy sy hoed oor sy horings aangetrek kry?

Let wel, moenie dit op Loftus vir een vra nie. ‘n Man gaan sommer ge-Jannie Els word. En vir dié wat dalk al vergeet het wie Jannie Els is, dis die agsteman wat destyds so die Naasslaanwerk vir die Vrystaat gedoen het. Die verskil: op die Stadion sal ‘n mens met so ‘n vraag ontkom , op Loftus waarskynlik omkom. Vir diegene wat mos nie die verskil geken het nie.

Ja-nee, onse mense se spêling is deesdae maar frot.

Herman Toerien