Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Klappertand en Springbokrugby

Herrie het dit al dikwels gesê: die Oos-Vrystaat lewer van die beste Springbokke op, veral in die voorry. Almal weet dit al, behalwe die Bokke se afrigter en “keurder,” Peter de Villiers.

Nou kan hy self sien wat gebeur as hy die Wallabies en All Blacks sonder ‘n Oos-Vrystater aandurf. Hy probeer nou iets doen wat die Springbokkeurders al van Danie Craven (Paul Roux) en Mof Myburg (Senekal) se dae nie sommer aangepak het nie.

En om Oupa Smit as haker en kapteiun vir die Wêreeldbeker aan te gewys het, het hy ‘n mosie van wantroue in Suid-Afrika se beste haker, en een van die top-hakers in die wêreld, Bismarck gestel. En waar kom Bismarck vandaan? Van die Oos-Vrystaat af natuurlik, soos boet Jannie, en Francois Steyn.

Gelukkig, fluister Herrie se persoonlike rugbyspioen, Haka Nouskie vir Herrie in die oor dat die hele ekspedisie Doer Onder toe net oëverblindery was. Eintlik is Rassie reeds besig om die eintlike span, met ten minste drie Oos-Vrystaters in, by Rustenburg te brei. By ‘n hoë prestasiesentrum. Maar dis ‘n vreeslike geheim. Snorreman se rol met die Wêreldbeker is bloot om verwarring te saai by die media en die opponente. Hy is glo uitgeknip vir dié joppie, al probeer hy nie eens nie.

Die Oos-Vrystaat het pas weer ‘n behoorlike sneeuneerslag beleef – en daarmee saam ‘n vreeslike opeenhoping van vragmotors. Hie gaan die liedjie nou weer: …”Die dae toe daar nog treine was…”

Dit laat Herrie dink aan kleintyd toe Herrie se pa ‘n jaar lank in die VSA gaan navorsing doen het, en die gesin saam is. Dit het twee halwe winters beteken, en agter die huise oorkant die straat was ‘n gholfbaan, wat in die winters die kinders se slee-baan was. Baie soos seepkiskar ry, net baie anders.

Na die jaar het die Herries se Dodge Lancer op die skip saamgekom Suid-Afrika toe, maar die TV en slee het agtergebly. Die TV kon Pa-Jan maklik motiveer, want Suid-Afrika het nie TV gehad nie. Die slee, verduidelik pa, bly omdat dit nie in Suid-Afrika sneeu nie. Soos die noodlot wou hê, sneeu die Vrystaat daai eerste winter tuis spierwit, net voor die Herries van Stellenbosch af op ouma se plaas in die Vrystaat kom wintervakansie hou het. Arme pa.

Op die plaas moes ons toe maar die ander leer om ordentlike, regte sneeumanne te maak. Hoe om ‘n klein sneeuballetjie in die sneeu te rol en rol tot dit later ‘n groot bal is. Dan ‘n effe kleiner een bo-op te sit, en nog een met ‘n geelwortel vir ‘n neus heel bo-op.

Jare later het Herrie weer ordentlike sneeu beleef toe ons as ‘n groep studente Mount Exhausted gaan klim het, en onderweg terug in Loch Athlone oorgeslaap het. Die volgende oggend is dit spierwit gesneeu, en dit sneeu nog. Tuis is Herrie se ouers verbaas, want daar is ‘n reddingsoperasie onderweg om vasgesneeude studente van die berg af te haal. Dit was ander studente, maar ai, as selfone toe al bestaan het sou dit baie kommer verdryf het.

Herman Toerien