Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Klappers en Kerstyd

Vir die Herries is Kersfees al die afgelope klompie jare iets met gemengde gevoelens. Ja, dan onthou mens hulle wat nie meer saam die vreugde hier deel nie, maar ‘n groot faktor is Pumba. Klein Herrie se opgewondenheid oor Oukersaand moet baie kompenseer vir Pumba se nagmerrie.

Ja, letterlike groot faktor, want so groot soos Pumba is, so bang is daai brak vir klappers.

Gewoonlik is Pumba nie ‘n bang hond nie. In teendeel. Eendag toe dit liggies reën, sit Herrie ‘n hoed op om saam met haar te gaan koerant koop. Soos gewoonlik gaan doen Pumba werfinspeksie terwyl Herrie die hek oopsluit, en toe sy klaar is gewaar sy die vent met die boep en die hoed by die hek. En sy storm!

Al manier was om die hoed naderhand af te pluk, en toe storm sy nog en kom staan hier teen Herrie en blaf – raas oor sy so onverhoeds, of liefs, hoeds gevang is.

Van die Herries se eie kat afgesterf het, haat sy katte nog meer. Kyk, ‘n mens hoef saans net vir haar te vra waar is daai swart kat, dan tol sy histeries, en dan moet gou deur oopgemaak word of hoor en sien vergaan in die huis.

Daar is uitsonderings. Kleintyd tuimel sy agteroor die sitkamer in van skrik. Dit blyk toe Klein Herrie het sy nuwe duikbril, snorkel en paddapote aangepas en was op pad sitkamer om te kom paradeer.

Maar dan is daar klappertyd. Kyk, daai hond kan diep-diep slaap en as die kleinste ou klappertjie doer ver afgaan, dan sit daai hond regop, en begin bewe. Is die klapper bietjie nader, en harder, dan raak dit onhoudbaar. Dis ‘n naarheid om te sien hoe haar bek oophang en haar asem jaag, en sy met haar groot lyf in die kleinste ruimtetjie inkruip, maar net as sy daar is, dan besef sy sy is darem erg vas, en wikkel weer uit.

En maak nie saak hoe vol goete mens haar jaag wat ‘n mens by die veearts gekry het nie, sy bly bevange. Boererate doen ook niks. Naderhand is daai yslike lyf tussen Herrie en Mev. Herrie op die katelkooi – na Herrie voos getrap is, en skaars plat, dan klap ‘n klapper weer iewers en Herrie word weer vertrap soos daai brak benoud-blaffend gang af suiker. En Herrie het as wegspringblok gedien.

Herrie het al lankal geleer grootte het nie altyd met ‘n hond se dapperheid te make nie. By geleentheid moes Herrie een nag iets in die stoor by oupa Nic en Ouma Engela gaan doen. Daar is ’n maanliggie en Herrie is sonder flits weg. Op pad terug huis toe gewaar die honde Herrie eers. Die lot gaan op ‘n ry staan en blaf verwoed. Herrie trek sy hempskraag oor sy kop, en arms uitgestrek storm op die honde af. Die hele lot, boele en skippers de lot, vloog kortom en suiker stertstompies vasgeknyp om die huis.

Net ouma Joey se verskimmelde foksie het die honde se reaksie verkeerd verstaan en is al amper tande ontbloot by Herrie toe hy agterkom hy is alleen. Die brakkie moes toe maar sy vertoning volhou.

Nou hoef ‘n Willeboer-besoeker net snags in die boeremark se heining in vas te ry, dan is Pumba van die slag ook die ene bewerasies.

Sy maak darem weer op wanneer mens “swart kat” sê of ‘n ander hond sonder haar toestemming voor haar erf verbyloop. Daai bondel blaffende en grommende spiere met die ontblote byters ligjare verwyder van die bibberende bewerasie wat ons uit die katelkooi boer.

En terwyl ons gaan koerant koop het Herrie altoos soos ‘n oorgewig “weed eater” gelyk soos daai hond op die punt van die ketting tekere gaan. Dit gaan al beter – nou is Pumba meer geïnteresseerd in die boodskappe teen die bome en lamppale. Sy moet egter spoedlees, want Herrie stap vir sy gesondheid.

Nou lê Pumba se nagmerrietyd weer voor…..

Herman Toerien