Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Kla oor almal kla

Kobus Jansen, afgetredene van Bethlehem, wonder of diegene wat so oor swak dien in Bethlehem kla, nie dalk self die oorsaak is dat hulle swak diens kry nie.

Soos oupagrootjie altoos gesê het: “Met die hoed in die hand kom’t man deur die ganse land.”

Oupagrootjie het waarskynlik nie die makkers geken wat eelte op hul stuitjies ontwikkel van speletjies op die rekenaar speel, of met amptelike vervoer weg is om privaat dingetjies te doen nie.

Herrie is ook nie seker hoe goed die makker agter die GG-kar se stuur se diens was wat met sy ganse gesin, opblaas-strandballe en veelkleurige bagasie van Senekal af in die rigting van Bethlehem gery het nie. Maar dalk het hy sy gesin by Loch Athlone gaan aflaai sodat hy kan gaan kyk of die skole in die omgewing al handboeke het.

Maar Herrie het vreeslik baie begrip vir Kobus se dilemma.

Staan bietjie in die tou by die bank, en iemand hou met skreeuende bande op die parkeerplek vir gestremdes voor die band stil, vlieg uit, storm die bank in, loop by die ganse tou verby, glimlag liefies vir die voorste wagtende, en fluister hees: “Ag, ek is bietjie haastig.”

Almal laat die haastige vou begaan – seker ‘n noodgeval by die skool met een van die kinders.

Sy word gehelp, trippel die bank uit, in die by die drankwinkel, kom prop die kas drank in die kar, en trippel weer by die supermark in. Haastig inderdaad.

Maar nog erger (as dit moontlik is), is die klant wat in ‘n sake-onderneming sy varkpak aantrek en op die personeel begin gil. Dit terwyl Herrie gesien het die assistent het sy of haar bes probeer.

Of iemand wat erg gekoring moleste in ‘n onderneming gemaak het, en uitgesmyt is. Baie beskaafder as wat Herrie dit sou doen, maar agterna, toe Bacchus gewyk het, Herrie steeds moes hoor van die betrokke onderneming wat so varkerig met hom was.

Ondernemings het dit nie aldag maklik nie. Koop vir jare by dieselfde boer doer in die noorde die mooiste aartappels. Op ‘n dag bring klante die sakke terug, en wys – as daai aartappels ‘n titseltjie beter was sou hulle vir voergraad kon deurgaan. Of die slag toe mev. Herrie ‘n sakkie gekoop het wat amper half vol grond en klippe was. Gewoonlik gee die winkel toe-oë ‘n ander sakkie, maar ‘n dag of twee later bel die boer van die oorspronklike sakkie en stry oor die gehalte van die aartappels… maar soek dan ‘n verkeerde een om mee woorde te wissel: mev. Herrie het op ‘n aartappelplaas grootgeword.

Maar soms word ‘n mens beproef. Soos as jy in ‘n winkel ronddwaal op soek na iemand om jou te help, maar elkeen wat jy sien verdwyn nog voor jy by hom kan kom. Seg ‘n kennis hy het die oplossing gekry. Stap net selfoon in die hand na ‘n kasregister of iemand wat ander diens doen en vra die bestuurder se nommer… Dit, sê hy, werk elke keer. Nie lank nie of omtrent tien mense probeer hom gelyk help.

Swak en onvriendelike diens is nie aanvaarbaar nie, en mens moet dit nie sommer so laat nie. Maar dis nie nodig om ‘n mens se varkpak aan te trek om ‘n mens se ontevredenheid te laat blyk nie. Ook nie as mens agter die stuurwiel inklim nie, al is dit net om die ander padvarke in gelyke munt terug te kan betaal.

Herman Toerien