Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Kerneels die bobaasbok

Herrie was nog verbaas om te lees die Indiane in Peru het sowat 7 000 jaar gelede al soveel variëteite van die mielie geplant dat hulle onder andere al springmielies gemaak het, toe hy lees die oudste gedomestiseerde hondeskedels wat in Siberië en België gevind is, is 33 000 jaar oud.

Dit blyk dat die mens omtrent 2 000 jaar vroeër die eerste keer eers mielies uit ‘n Meksikaanse variëteit van die teosinte-gras gekweek het. Die honde wat destyds onafhanklik van mekaar uit wilde hondagtiges geteel is, het blykbaar met die groot ystydperk uitgesterf, maar die mens het weer sy beste vriend gaan teel.

Ja, die mens en sy beste vriend se pad kom al langer saam as sy pad met ander makgemaakte diere wat in die mens se maag beland.

Uit rotstekeninge blyk dit die San in Suidelike Afrika het begin om elande te domestiseer voor die Koi en swart stamme met hul beeste hul opwagting kom maak het, en toe die makmaakproses blykbaar noodgedwonge moes laat vaar. Nou melk die Russe maar elande.

Maar om ‘n wilde ding mak te maak is ‘n anderster storie. Wees- en makmaak is een storie, maar werklik domestiseer, is dikwels ‘n ander. Op ‘n dag, roep die ou natuur, en ‘n hele paar leeubase het al happe weg. Herrie se ou koshuismaat, Louis, is deur sy vrou se mak blouwildebees gegaffel. Louis was in die hospitaal, en die wildebees verwyl nou die dae op ‘n wildplaas. Waar hy maar wild mag wees.

Of sommige boksoorte ooit behoorlik gedomestiseer is, weet herrie darem nou nie so mooi nie. Met bok bedoel Herrie nou daai gediertes met die baardjies wat die Engelse “goats” noem. Goed soos boerbokke.

Want kyk, is hulle dié kant van hul heining, moet hulle opsluit anderkant wees. En verskuif die spulletjie nou na die weiding aan daai kant, is hulle knaend diekant.

Op Brandvlei het die dominee juis eendag so onder die diens die moeilikheid sien kom. Die koster het eenkant alleen op sy stoeltjie gesit om halfpad deur die diens die klok te gaan lui, en so onder die prekery weggeraak. Dan knik die ou se kop. In die deur, nie ver nie, het die kerk se bokram gestaan en die kopknikkery gesien, en gedink dis pure skoorsoekery. Knik die ou kêrel sy kop, maak die bokram ook so, tot hy storm en die arme koster van sy stoel afstamp.

Toe skryf oud-koerantamn Thys van sy oom-hulle se uitsonderlike boerbok, Kerneels. Het daar kuiermense gekom, moes al die gaste eers formeel aan Kerneels voorgestel word, anders het Kerneels hulle lewe kom vergal.

Ag, en in onse land wat die son so warm kom bak sal kuiermense mos hul rygoed onder al wat koeltetjie is intrek. Maar vir bokkaters soos Kerneels bied so ‘n kar darem die gemaklikste staanplek om daai einste koeltetjie se groen blaartjies tussen die tande te kry. En daai hoewe trek sulke vore deur die verf.

Boonop, as ‘n bok so smaaklik smul aan die sappigheid, is kamer verlaat ‘n ydelheid – nee die besigheid word sommer daar gedoen.

Danksy ‘n mak bobbejaan met die naam Karools, het die naam Mattheus Carolus, wat van die eerste geslag hier te lande af van oupa na kleinseun aangegee is, wat die Carolus betref, in Herrie se regstreekse linie uitgesterf. Hoe sou “Karools se kerrie” In elk geval geklink het?

Herman Toerien