Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Kerke baklei so lekker want hulle stry so lekker

Met die politiek wat nie meer is wat dit was nie, so lyk dit, verskuif die groot baklei na die kerke.

Nee, dis heel verstaanbaar dat ‘n man nou nie meer so appels en selfs stoele by politieke vergaderings kan swaai nie. Want as jy nou nie mooi korrel nie, is dit ‘n rasse-insident. Selfs ‘n vrot eier wat skeef gelanseer is, kan ernstiger gevolge as vrot eier in die gesig hê.

Behalwe natuurlik as die ANC by sy beleidskongres heel vreedsaam onderling die appels swaai.

Maar Herrie is  nie ‘n man wat hom met die politiek ophou nie. Nee, kerksake is eintlik die ding, en dus bakleiery. Ook hier moet ‘n mens nou versigtig die lakens uitdeel as met ander kerke baklei word, soos die hele ding van die Tyrannus- Apostoliese kerk se wederregtelike saamtrekke in die Wolhuterskopnatuurreservaat, wys. Sommer gou maak die verbrouers daarvan ‘n rasseding.

Maar as ‘n man in jou eie kerk baklei, bly dit ten minste tradisievas.

Daar is dit ‘n geBelhar hier, en ‘n Trojaanse perd daar, dis stoeres teen nuwe Psalms, en hervormers teen steedsHervormers. En al swaai die appels en die kerkbanke nie, word woorde ingespan wat die inkwisisie na ‘n Sondagskoolpiekniek laat lyk. En die grootste opstokers en kwaadpraters sal dan die vroomste gesiggies vir die media voorhou en sê hulle kan nie verstaan hoekom die ander nou so lelik terugslaan nie.

Al wat maar gebeur het, sê hulle en glo hulself vas, is dat hulle gesien het die ander gaan slaan toe slaan hulle maar eerste terug. Nou nie met vuiste nie, maar met woorde met volop hulpmiddels soos DVD’s met halwe waarhede en infame leuens, kwaadwillige e-posse en ander internetboodskappe …

En so tussenin word die Bybelgenootskap nie ontsien nie.

Ja-nee, die liedjie lui mos: “Afrikaners is plesierig, en dan maak hulle so. Eers belieg ek my naaste, en dan huil ek krokodiltrane…”

Maar vreemd soos dit mag klink, die Afrikaners kan nog gaan lesse neem oor kerkbaklei in Amerika. Daar, tot almal se verbasing is dit nie die Rooms-Katolieke Kerk met die instroming van Spaansprekendes uit die suide, of die suidelike Baptiste, of die swart hallelujakerke wat die vinnigste groei nie. Nee, dis die Amish. Van 1990 af het hul getalle meer as verdubbel, en staan nou op sowat ‘n kwart miljoen.

Maar binnegevegte, so lyk dit, het nou so lelik geword dat hul gewone  vreedsame optrede in ‘n nare bakleiery ontaard het. Hulle wil niks weet van moderne dinge soos TV’s en selfone nie, en selfs motors nie. Maar skêre, so lyk dit, is darem tradisioneel genoeg. Dié word ingespan om die ondenkbare te doen – opponente se baarde mee af te knip, terwyl die skoner geslag mekaar se poniesterte met die skêre bydam. Dis die grootste belediging denkbaar wat ‘n getroude Amish te beurt kan val.

Van die belhamels is gevang, al wil nie die polisie of die regters veel met hierdie twis te make hê nie. Die owerhede gaan dus uit hul pad om vreedsame uitkomste voor te stel, maar minstens sommige van die bakleilustiges is so boos, hulle wil nie vrede maak nie al beteken dit ook hulle kan 20 jaar agter tralies beland.   

Herman Toerien