Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Kat in die sak … nee tas

Dié storie is vir die waarheid aan Herrie vertel, maar om die nbetrokkenheid van die betrokkenes nie aan die groot klok te hang nie, word die name en ‘n paar van die feite effens verander.

Oom Jan Platkop is lief vir diere, maar nie naastenby so lief vir diere soos sy laatlamdogter, Lizette, nie. Wanneer die halfmak muskeljaatkat snags in tant Marie se hoenderhok beland, word oom Jan hoenderhok toe vergesel deur vier honde, twee katte, twee graatjies en ‘n waaierstert. En sy knopkierie, want dis gevaarlike tye.

Lizette sal nooit toelaat dat haar pa die muskeljaatkat iets maak nie, en daarom is dit bloot verwilder, en weer draad regmaak. En elke nou en dan ‘n hoender afstaan.

Maar dié oggend, met die maan wat helder skyn, is die geluide in die hoenderhok baie erger. Soos gebruiklik sit oom Jan af hoenderhok toe, maar sommer al in die huis, toe by die sitkamer verbygenael word, begeef die meerkatte se moed hulle en duik hulle onder die sitkamerbank in. Selfs die honde trippel onseker voor die deur. Van die hoenderhok af kom die vreeslikste geluide, en die wilde gesis tussenin vertel dat dit vanoggend geen gewone kietsie-verwildering gaan wees nie.

Dit is toe ook so – dis net vere wat waai, en tussenin die spitsore van ‘n sissend-briesende rooikat.

Oom Jan gil, en die honde vlieg tjankend om, stert tussen die bene terug huis toe.

Die rooikat besluit dis tyd om te verkas, seil deur die gat in die ogiesdraad, en hardloop veld in. Oom Jan is geskok oor die verwoesting in die hoenderhok, en ‘n vreeslike woede pak hom beet. Uit pure frustrasie slinger hy die knopkierie agter die rooikat aan. Doef! Poks of te nie, daar lê ta.

Oom Jan herwin sy knopkierie, en druk-druk lugtig aan die gedierte. Maar die kat se kers is uit.

Met die rooikat aan die stert kom oom Jan by die huis aan. Die werkers sal netnou kom melk, en dan sal die rooikat begraaf word.

Maar Lizette is die naarheid in oor die kat. Dit kan nie hoër of laer nie, die kat moet in ‘n tas begraaf word. Tussen mooipraat en dreig het oom Jan en tannie Marie naderhand vir Lizette so ver om nie die heel nuutste reistas nie, maar ‘n ou skooltas vir die begrafnis in te span.

Wyle kietsie word in die tas gesit, en toe oom Jan ‘n ruk later melkstal toe gaan, gaan die tas saam. Maar net ‘n ent weg, onthou hy hy het sy selfoon in die huis laat lê, en los die taamlike swaar tas net daar in die middel van die grasperk. Toe hy ‘n minuut of wat later by die plek kom waar hy die tas gelaat het, is dit skoonveld.

Hy krap ‘n rukkie kop, maar moet melkstal toe en vergeet eintlik half daarvan.

Maar net ‘n rukkie. James, wat besig was om lusern te baal, kom oop en toe met die trekker aangejaag. Daar is groot moeilikheid langs die grondpad Afrikaskop toe. Die ambulans moet gebel word…en toe James ‘n oomblik gedink het … daar moet sommer baie ambulanse laat kom word want die ongevalle is groot.

Oom Jan bel, menende ‘n minibustaxi het omgeslaan. Met die noodhulptassie sit hy en tannie Marie met die bakkie af na die ongelukstoneel. Op ‘n afstand sien hulle die taxi staan, maar skynbaar sonder ‘n duikie of skrapie. Maar nie die bedremmelde, gehawende passasiers nie. Hulle is die ene skrape, hul klere is sleg geskeur en die kleingoed huil kermend.

Tannie Marie begin verbande inspan, en oom Jan loop vooruit met die kannetjie met spuit-ontsmettingsmiddel.

“Wat het gebeur?” Maar die passasiers wil nie sê nie, maar hy kry die idee toe hulle onder mekaar praat en hy hoor hoe hulle vir mekaar van die vreeslike “katse” beduie. En ja, sien hy, binne die taxi lê die ou skooltas oop, en onderstebo.

Oom Jan kan die versoeking nie weerstaan nie. “Daai kat van my laaik dit baie in die soetkys. Hy raak vreeslik die m*&r is as iemand hom uithaal. As julle hom nou gaan haal en weer in die soekys sit, laat kom ek die ambulans om julle te kom help.”

Daai gesigsuitdrukkings wat oom Jan begroet was, sê oom Jan, iets wat hy nooit sal vergeet nie. Maar nog voor daar ‘n aanduiding kon wees of hulle hom glo, kom die eerste ambulans met loeiende sirene oor die bult aangejaag.

Hoe die tas van sy grasperk tot in die taxi gekom het, en in watter stadium kietsie besluit het hy is net katswink, nie dood nie, kon oom Jan nooit met sekerheid vasstel nie. Die tuinman het ‘n paar dae later ‘n paar knoppe op sy kop, en die ander vertel dit is oor hy iets in “bêd fyf” aan iemand verkoop het, en toe nie die “refand” kon doen nie, maar hulle verstaan nie so mooi nie…

Herman Toerien