Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Hulle stink so lekker want hulle drink so lekker

Pas is trots in Antwerpen aangekondig dat ‘n bier wat meer as ‘n 100 jaar gelede van die mark verdwyn het, pas weer op die rakke begin verskyn het.

Die bier, Seefbier, was destyds so gewild dat ‘n woongebied, Seefhoek, daarna vernoem is.

Herrie was skynbaar nog te nat agter die ore toe dié bier opgedroog het, want Herrie onthou g’n niks daarvan nie.

Daar is lank navorsing gedoen om die resep weer aanmekaar gesit te kry. Maar daar is ‘n ander rede waarom die nuwe bier nie presies dieselfde gaan smaak as die oue nie. Van die koringsoorte wat destyds vir die brouwerk gebruik is, bestaan nie meer nie, en die naaste vergelykbare smaak moes maar gesoek word.

Iets wat baie lank behoue gebly het, is die maak van springmielies. Argeoloë het onlangs ontdek die Indiane van Peru het al 7 000 jaar gelede springmielies gemaak. Daardie mielies het natuurlik baie anders gelyk as vandag s’n, want dit was maar ongeveer 2 000 jaar na die Indiane in Mexiko mielies uit die tropiese gras, teosinte, gekweek het.

Pas het Coke en Pepsi bekend gemaak hulle gaan elkeen hul resepte na meer as ‘n honderd jaar aanpas. Kalifornië het pas die bestanddeel wat daardie tipiese karamelkleur veroorsaak, op die lys van middels geplaas wat dalk kanker kan veroorsaak. Dié middel, basies karamel, het kanker by muise en roete veroorsaak waarop die proewe gedoen is.

Aanvanklik het Coke en Pepsi aangekondig dat hulle wêreldwyd dié kleurstof gaan vervang en dat die kleur en smaak nog net so gaan bly. Later het Coke se Nederlandse filiaal aangekondig dis net Coke in die VSA wat gaan verander.

Om ‘n soortgelyke hoeveelheid kleurstof in te kry as waarmee die rotte en muise gevoer is, moet ‘n mens elke dag ‘n paar duisend blikkies Cola wegslaan. Owergesetsynde, as iemand met sy daaglikse brannas en Coke soveel kleurstof wil inkry, moet hy elke dag ‘n balie brannas daarmee saam wegslaan. Daar is geen bewys dat die kleurstof dieselfde uitwerking op die mens, as op die proefdiere sal hê nie. Daarvoor sal Pepsi en Coke die eksperimente met mense moet herhaal.

In ‘n onverwagse wending het Coke Herrie genader om tog ter perse te gaan en te hoor of daar vrywilligers is. Hulle verneem by elke rugbywedstryd word ‘n hele paar balies brannas kafgedraf, wat beteken genoeg Coke vir die eksperimente vloei by daardie geleenthede.

Coke wil verkieslik nie die eksperiment in Johannesburg doen nie, want netnou steek daar iets in, en die manne hou op Coke saam met die brannas sluk. Dan is dit nie meer Brannas- & Cokepark nie, maar net Brannaspark.

Bethlehem, so blyk Herrie se omvattende navorsing, sal nie vir die eksperimente deug nie. Die gesaghebbende koerant, Vrystaat, se argiewe lewer wel 26 verwysings na Bethlehem en brandewyn op, maar dit is meestal oor seminare téén brandewyn, soos dat brandewyn nie brieke het nie. Verder gaan dit oor goeie brandewyne soos kersiebrandewyn, en om Coke daarby te gooi is so kômmin soos om brannas by 20 jaar KWV te gooi.

Bloemfontein, met meer as 120 trefslae, lyk na ‘n veel beter kandidaat vir dié eksperimente. …..In die praktyk het Bloemfontein veel meer brannas-trefslae, soos teen lamppale, Dawie op die hoek se muur en verskeie heinings in die omgewing van die Willeboer.

‘Skies vir die stilte. Mev. Herrie het kom verneem of die Coke-eksperiment dan nie sonder brannas gedoen kan word nie? Na diepe besinning het Herrie besef dit kan nie. Om soveel skoon Coke met al die suur daarin in te kry, gaan ‘n man se kernjots vreeslik brand.