Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Hoor net hier…

Nuuswenke aan ‘n koerant kan besonder groot stories oplewer, maar ook stories wat die nuusredakteur laat skater, maar tog ook met die hande in die hare laat. As hy nog hare het, want daardie warm stoel kan ‘n man nogal die hare uit sy kop laat trek.

Soos die wenk wat Vrystaat ontvang het oor ‘n pastoor wat so groot vir ‘n veiligheidsoefening geskrik het dat hy nie kon ophou vloek nie…

Herrie se doen en late naam hom gereeld na koerante anderkant die groot water, wat deesdae nie ‘n groot kuns is as ‘n mens toegang tot die internet het nie.

Maar dan moet ‘n mens ook die een en ander van die taal weet wat ‘n mens lees … en met die stamtale kan dit nogal lol.

Herrie het op universiteit al geleer dat die “vaak” in ‘n Nederlandse voorgeskrewe boek nie dieselfde as die Afrikaanse vaak kon wees nie. Nee, dis “dikwels” wat so vaak gebruik word.

Sommige uitdrukkinge begin Herrie al gewoond raak, soos die Palestyne wat Israel so met “raketten” bestook. Raketten wat ontplof.

Maar nou lees Herrie in ‘n Vlaamse koerant van die jong Belg wat in die buiteland “doodgeblikzem” is. Nee, hy is nie op ‘n skoolterrein deur die skoolboelie afgeransel nie. Die weerlig het hom raakgeslaan, met noodlottige gevolge. Soos oom Nico se Engelse buurvrou wat gekla het dat die ander boere in die omtrek die reën kry, en hulle net die bliksems. Die bli&^%ms het die veld by hulle daardie jaar vreeslik aan die brand gebl*&^m.

Nie al die nuus wat ‘n mens so in buitelandse publikasies raakloop is tragies nie. In die suide van China het minstens een piranha in ‘n rivier beland en boonop iemand gebyt. Nou word ‘n beloning en gratis aas aangebied om dié getande monstertjie aan die lyn te kry.

Of die aankondiging in ‘n Nederlandse Christelike koerant dat ondersoek ingestel gaan word na die teelprogram van chihuahuas. En ja, ‘n heel ander woord is vir “teel” gebruik.

In België is paneelkloppers bekommerd oor hul inkomste omdat parkeersensors nou veroorsaak dat minder motors gestamp word. Die sensors word deur die einste mense wat kla geïnstalleer.

‘n Nieu-Seelandse sielkundige, James Flynn, wat IK-gegewens van die afgelope 100 jaar bestudeer het, het pas verklaar dat vroue van vanjaar af formeel ‘n hoër IK as mans het. ‘n Eeu gelede was vroue se IK gemiddeld vyf punte laer as dié van mans, maar die gaping het algaande gekrimp – en nou is vroue gemiddeld intelligenter as mans. En vir die manne wat nie seker is nie, Flynn is ‘n man.

Terwyl die een hitterekord na die ander in die noordelike halfrond tuimel, en kenners die tempo waarteen die seevlak styg al vinniger aanpas, het ‘n groep wetenskaplikes letterlik bietjie koue water oor die storie gegiet – of seker ook nie eintlik nie. Hulle het die jaarringe in bome wat al eeue lank in yskoue mere in die poolsirkel van Noorweë tuimel, bestudeer en vasgestel dat die klimaat nou gemiddeld ‘n half graad koeler is as 3 000 jaar gelede. Dis natuurlik bietjie appels met pere vergelyk …’n duisend jaar gelede het die klein ystydperk die Noormanne uit Groenland uitgeboer, en nou word weer allerlei gewasse soos aartappels geplant.

Maar nou verstaan Herrie hoekom hy dit alles nie verstaan nie. Herrie se IK is te laag want hy is ‘n man.

Herman Toerien