Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Hondelewe in die Oos-Vrystaat

‘n Brief in Vrystaat waarin ‘n honde-liefhebber op die lot van Oos-Vrystaatse honde, veral korthaarbrakkies, in die winter wys, het Herrie se gedagtes wyd laat loop.

Die briefskrywer skryf sulke honde kan nie in die winter buite slaap nie, en moet bedags in die sonnetjie buite kan gaan lê. En genoeg oefening en geselskap kry. Dit klink mos na die regte soort hondelewe vir die mens se beste vriend.

Vanoggend tref dit Herrie weer hoe hondelewens die afgelope dekade of wat verander het, en dit het nie vreeslik baie met wat honde maak of nie maak nie te make.

Dink net, wanneer laas het u die grootste vragmotor die straat sien afry, gevolg deur die buurt se kleinste wolhaargedoentetjie wat die lorrie jaag, vreeslik tande uitpak en verwoed grom en blaf? Dis ‘n grits, grits, doef, tjank van naels oor die teerpad sleep en neersloeg in slaggate.

Nee, as ‘n hond sonder leiband nou op straat is, is dit omdat hy op ‘n manier uit sy eienaars se huisfort ontsnap het, en verdwaal is. Daar word gou rondgebel oor wie ‘n hondjie vermis, en boodskappe word oor die radio uitgesaai, pamflette word uitgedeel.

En Herrie kan nie eens meer onthou wanneer hy laas ‘n buurbrak se slagyster op die grasperk moes gaan opruim nie.

Maar in die Herries se straat is daar ‘n groterige hond wat nog op sy eie op straat kom. Eers was hulle twee, maar nou net een want dis ‘n baie besige straat. En dié honde is te groot om, soos Herrie al gesien het hoe ‘n paar katte maak – die katte klim aan die oorkant in die stormwaterinlaat in, en oomblikke later weer by die stormwaterinlaat aan die kant uit. Hulle span die waterpyp as duikweg in.

Die hond wat so op straat kom, kry dit reg omdat die hek van sy mense nie behoorlik kan toemaak nie. Sy maat het sommer oor die muur gespring, en so een keer bo-op ‘n vrou beland wat op die sypaadjie geloop het, en plat teen die grond gespring is.

Die oorlewende hond het ook al ‘n student wat verbygestap het, gebyt.

Maar uit Herrie se kleintyd ken Herrie van een ding – as ‘n hond storm, maak of jy ‘n klip optel en hom gooi. Herrie het nog nie ‘n hond gekry wat nie vir daai een val nie. En daai brak is verskriklik bang hiervoor. Dalk het die feit dat hy al met regte klippe gegooi is, iets daarmee te make, want Dawie se sypaadjie oorkant die straat het nie meer ‘n inkelte klip nie. En Herrie het self in die dae van klippe ‘n paar missiele gelanseer, eintlik raaksiele want daai klippe het behoorlik teen die hek weergalm.

Uit eie ervaring weet Herrie ook dat honde universeel val vir dié klipgooi-foefie.

Jare gelde het Herrie as student saam met nog ‘n student by gasouers in Bijlmermeer buite Amsterdam tuisgegaan en sommer die eerste oggend op vreemde bodem saam met die gasouers se dogter, en hul poedel, Panda ‘n wandeling onderneem. Skielik bars ‘n steekhaar tussen die bossie uit, en skraap vir Panda. Instinktief maak Herrie of hy ‘n klip optel, en omdat die steekhaar steeds kom, die klip na hom gooi. Toe verstaan die brak “Afrikaans”, en vlieg stompie tussen die bene kortom, eenkant om die bosse. Om die ander kant kom die brak se woedende eienares, en gryp Herrie voor die bors.

Omdat Vrystaat ‘n gesinskoerant is, kan Herrie nou nie alles herhaal van wat sy gesê het nie. Boonop, vir ‘n eerste dag in Nederland is Herrie se ore ook nie so lekker ingestel vir mense wat Hollands in plaas van keellangs praat nie. Herrie maak darem iets uit dat sy objeksie het dat haar hond met “ein stein gewerfen” is, of so iets. Heel duidelik ken die Nederlanders nie die kultuur van maak of mense honde met klippe gooi nie.

Herrie besef hy gaan geklap word, en besin intussen oor die nodigheid al dan nie om te keer. Maar sy het vreeslike gespierde voorarms, kan Herrie sien terwyl hy geskud word. Maar voor die finale besluit geneem kan word is die gasouers se dogter by en gryp die ontstoke honde-eienaares. Oor dié relletjie laat Herrie liefs die sluier sak, ander moet dié vertelling nog ‘n ouderdomsbeperking vir geweld ook kry.

Die ergste, daar was nie eens “stene” in die omgewing nie, ook nie eens klein klippies nie. Herrie het eers later besef die Nederlanders noem ‘n klip ‘n “stein” en spel dit “steen.”
Herman Toerien