Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Groot leemte toe sendingveteraan groet

Oom Danie Hoffman was nie groot nie, maar noudat hy nie meer daar is nie, laat hy ‘n yslike leemte.

Oom Danie, afgetrede sendeling wat onder meer in Zambië gearbei het, het pas op amper-amper 92 afskeid geneem.

Dit voel soos nou die dag, maar toe Herrie sy vingers inspan besef hy dis veertig jaar sedert hy Andries en Matie Hoffman, en so vir oom Danie ook ontmoet het. Ons het vriende geword…

In wyle ouma Martie se ouetehuiswoonstelletjie het Herrie ‘n portret gesien van haar Hoffman-familie, en daarop kom ook name soos Matian en Danie voor, en Herrie besef ons is boonop nog familie ook. Nie naby nie, so blyk dit, maar darem. Die Hoffmans is regstreekse afstammelinge van die oud-president Josias Hoffman van die Vrystaat, terwyl Herrie van ‘n broer van die oud-president afstam.

As skoolkinders wat saam ge-KJA het, was ons huise baie na-aan mekaar. Ons kinders het oor en weer gekuier, en so het Herrie oor die jare van oom Danie se sendingstories gehoor. Nou kyk, oom Danie kón vertel en het ‘n besonder humorsin gehad. Die een storie wat Herrie bygebly het is:

‘n Kerkraadsvergadering doer in Zambië moes haas begin, toe een van die ouderlinge op sy fiets daar aangejaag kom. Dis nie die laatkom wat hom so laat martelpyp moor het nie. Hy het groot geskrik!

“Ek kry die lang afdraande,” verduidelik die bewerige ouderling, “en trap lekker vinnig.

“Onder by die afdraande, maak die pad die draai. Daar is bosse op die draai. Toe ek om die draai kom, toe sien ek, ek ry nou tussen die leeus.”

“”En wat maak jy toe?” wil die dominee gemoedelik weet om te help kalmeer.

“Ek het maar die klokkie gelui.”

Dit moes gewerk het, want die hele ouderling het by die kerkraads-vergadering uitgekom. Hoe, en wanneer hy huis toe is, kan Herrie nou nie onthou nie.

Oor die veertig jaar het ons lewens uitmekaar beweeg, en dan het ons mekaar weer raakgeloop en meer kontak gehad. As wewenaar het oom Danie ‘n paar jaar gelede uit die ouetehuis getrek, en in Herrie-hulle se woonbuurt kom intrek, – ongelukkig aan die ander kant. Tog het Herrie-hulle oom Danie veel meer gesien as wat die geselskansies aangedui het.

So het Herrie en oom Danie gereeld saam in die tou by die bank beland. By navrae. Want al maak Herrie half van rekenaars uit, is Herrie se banksake nog op die outydse manier. Dan kry ons ‘n geselskansie terwyl die tou vorentoe beweeg. So kry Herrie nuus oor Matie, nou landswyd bekend vir sy deelname aan die radioprogram, Sterre en Planete, en Andries, wat predikant in Botshabelo is, en deeltydse dosent by Kovsies se teologiese fakulteit. Andersins is Herrie se “geselsies” met Andries en Matie hoofsaaklik via die e-pos. Wanneer oom Danie se sakies by navrae afgehandel is, versit hy na buite en gaan doen sy transaksie op die outobank.

“Kan jy glo daai oom is al in die 90 en hy sien vir daai bankoutomaat kans?” vra Herrie by geleentheid vir ‘n jonger man in die bank. Hy skud sy kop in ongeloof.

Ja, Herrie is al deur die bank eendag, op seniorburgerdag, as ‘n senior burger getrakteer, maar Herrie is darem heelwat jare jonger as oom Danie.

Nog vars ‘n herinnering is oom Danie wat, sy meer as negentig somers ten spyt, nog self bestuur en kom waar hy wil wees. Dit voel soos nou die dag wat die Herries hom nog, op pad huis toe van die kerk af, stewig sien stap het, sy kenmerkende donker hoed op die kop.

Dit het onwerklik gevoel toe Herrie onlangs die e-pos kry dat oom Danie nie lekker is nie. En nog meer onwerklik ‘n paar dae later dat dit nie met hom goed gaan nie. Planne word gesmee om te gaan besoek aflê, maar dis Kerstyd soos dit ongelukkig gaan, dit en dat wat voorval. Doer ver in die Kaap gaan dit ook nie goed met Ma Johanna nie, en ‘n man se aandag elders…

En toe kom die nuus dat oom Danie gegroet het. Rustig, soos sy aard.

“Hy het kort tevore nog geglimlag toe Andries vir hom ‘n Jan Spiesstorie voorgelees het,” skryf Matie per e-pos. Ek kan my dit indink …daardie humorsin.

Herrie se stem bewe toe hy die nuus vir die huismense oordra. Herrie se eerste gedagte: “Ek gaan oom Danie se geselskappies in die tou by die bank vreeslik mis.” Verder kon Herrie nog nie dink nie, Herrie is te hartseer.

Herman Toerien