Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Gevaarlike rygoed

“Het vlerke, kan vlieg.”

Dis min of meer wat die A Team se Howling Mad Murdock sê wanneer hy basies enigiets van ‘n afgeleefde wrak tot ‘n konka die lug in kry om die span by hul bestemmings, en weer daarvandaan te kry. Mits iemand Mr. T oor die kop geslaan kry want dié verseg om te vlieg, veral as Murdock agter die stuurstang sit.

Nou was Herrie al ook al bevoorreg om met min of meer alles wat vlerke het te kon vlieg. En selfs met ‘n helikopter of wat.

Ja, Herrie was al selfs in Durban in ‘n noodlanding betrokke, en is die volgende dag met die selfde êrrie weer vort na dit die vorige nag na bewering opgefieks is. En seker ‘n klomp sitplekke skoongemaak is. Nogal die aardigste sensasie as mens sien hoe die ambulanse, brandweerlorries en ‘n ander klomp noodvoertuie met flitsende ligte agter jou êrrie met die rokende enjin aangejaag kom.

Natuurlik is daar ook die teenwoordiges van gees. By geleentheid het die êrrie is waarin Herrie was baie hard in Kimberley geland. Daar heers ‘n geskokte stilte, en toe laat hoor iemand van agter: “Moenie wharrie nie, hy’t Dunlops op!”

Herrie was ook al in ‘n vliegongeluk, maar met ‘n motorfiets.

Trouens, die deur die lug trek was niks, dis die skielike grondvat tussen ‘n klomp groot klippe langs die pad wat nogal erg was, en gemaak het dat Herrie met bitter min velle aan op een Oujaarsaand by noodgevalle insukkel het. Die matrone aan diens het Herrie net een kyk gegee: “O, nog ‘n motorfietsgeval. Sit daar en wag jou beurt af.” Gelukkig was Herrie se sitgereedskap darem nie ook sonder velle nie. Herrie het instinktief vir die belangrikste deel van sy anatomie geskerm.

Nou dis nou eintlik oor die motorfietse wat Herrie dit het.

In Honduras is ‘n wet gemaak wat motorfietsryers vir ses maande lank verbied om passasiers saam te ry. Die rede is dat te veel politici die afgelope ruk afgemaai is deur skieters wat agterop motorfietse gery het. Dié skietery is weer ‘n oorlopp van die Meksikaanse dwelmkartelle.

Hierdie dwelmkartelle speel nie. Enigeen wat in hul pad kan staan, word gewoon uit die weg geruim, selfs in buurlande. Die stemming in Honduras se parlement moes selfs agter geslote deure plaasvind sodat die dwelmbase nie sal weet wie het nou gestem om ‘n speek in hul motorfietswiel te steek nie.

Herrie het ‘n spesmaas die stemmery in die geheim was nie net uit vrees vir die dwelmbase nie. In daai lande is motorfietse amper net so belangrik soos donkies as manier om vrag te dra soos in sekere dele van die wêreld, en dis ongelooflik hoe vaardig daai mense is om ‘n vreeslike vrag gelaai te kry. Kom dit by gesinne, speel die motorfiets min of meer dieselfde rol as ‘n gesinsmotor. Hoe groter die gesin, hoe kleiner die motorfiets.

Die nuwe wet gaan nou beteken dat ‘n mens vir ses maande gaan sien hoe die Honduraan op sy motorfiets ry met mev. Honduraan en die klein Honduraantjies wat langsaan voetslaan. Gelukkig mag die bagasie darem nog op die motorfiets.

Maar daai Meksikaanse dwelmbase is iets ysliks. Veral joernaliste word vermoor. Sedert 2000 is al byna ‘n 100 joernaliste en hul medewerkers al in Meksiko vermoor.

Maar moenie die Sentraal-Amerikaners self vlak kyk nie. Dié spulletjie kan moeilik wees. By geleentheid het Nicaragua en Guatemala teen mekaar sokker gespeel. Dié spelery het tot ‘n bakleiery gelei, en die bakleiery tot ‘n oorlog wat honderd dae geduur het. Herrie dink nie iemand kan eens onthou wie die sokkerwedstryd gewen het nie.

Herman Toerien