Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Gedrogte uit plek

Die inwoners van Florida in die VSA het kort-kort te kampe met vreemde diersoorte wat mense daar in die natuur gaan “vrylaat.” Die jongste indringer is ‘n reuse slak uit Afrika wat tot 20 cm groot word. Die omvang van die probleem is onlangs besef toe twee benoude inwoners ’n pesbestryder wat toevallig voor hul huis verbygery het voorgekeer het, en gesê het hulle drie van dié monsters in hul huis gekry.

‘n Groot veldtog word nou geloods om die indringer hok te slaan. Met goeie rede, want dié tweeslagtige monsters kan tot ‘n 1 200 eiers in ‘n jaar lê.

In 1966 het ‘n seuntjie ‘n paar van hierdie slakke as troeteldiere uit Hawaii gesmokkel, en later het sy ouma die gediertes buite vrygelaat. Miljoene dollar later is die pes na tien jaar se bestryding uitgeroei.

Dis ‘n morsige spesie wat hom aan sowat 500 verskillende disse kan verlustig, en groot hoeveelhede daarvan. Die ergste is dis ‘n draer van menslike breinvliesontsteking. Maar dis vreeslik, kla die mense, hoe dié spulletjie ‘n streep van dit wat hulle gevreet het los as hulle teen huise se mure uitklim. Dis behoorlik skuit, skuit die huis uit.

Die vermoede is dat die huidige besmetting veroorsaak is deur ‘n vrou wat ‘n paar vir godsdienstige rituele ingevoer het.

‘n Vriend van Herrie van Montana (VSA) skryf sy broer-hulle woon ook in Florida (VSA), en beleef die vreemdste ervarings met diere wat mense in die natuur “vrylaat.” Sommige van dié diere, soos luislange, boas en iguanas aard heel goed in die somer, maar met klimaatverwarming, word dele van Florida nou in die winters ongewoon koud. So speel die natuur self met die indringers klaar.

Maar iemand sien ‘n paar verkluimde iguanas en laai die byna dooie gediertes in sy kar. Maar binne die kar is dit warm, en na ‘n ruk is die gediertes vol lewe – te vol lewe. Nie net is hulle toe bakleilustig met hul redder nie, maar bemors sy kar iets vreesliks. Na ‘n woeste meningsverskil is die ondankbare passasiers weer langs die pad afgelaai sodat die natuur maar sy ding moet doen. Die verrinneweerde en besmeerde kar se binnekant het ook heelwat moeite opgelewer.

Dis nie net uitheemse diere wat amok maak nie. ‘n Paar jaar gelede het inwoners gekla dat alligators die huise begin instap het, en selfs hier en daar ‘n hond as wegneemdis saamgeneem het. Die honde se eienaars is teë daarop.

Natuurlik is daar soms onverstaanbare wette, soos soms hier ook, waar die aanhou van ‘n inheemse spesie bykans ‘n halsmidaad is, maar nie die eksotiese weergawe nie wat dikwels uit hul lande van herkoms gesmokkel word, hier ontsnap en die inheemse weergawes verdring. In die VSA is die aanhou van alligators as troeteldiere ongewens, maar gereeld skaf Yanks die fraaiste klein kaaimannetjies by “troeteldier”-winkels aan. Maar ‘n klein kaaiman word ‘n medium-kaaiman, wat geen moeite daarmee het om ‘n vinger voos te hap nie. Dan word die geniepsige dierasie in die toilet afgespoel, sodat rioolinspeksies soms met gewapende begeleide gedoen moet word, want daar onder word die kaaimanne groot. Soos Ninja-skilpaaie.

Nou nie dat die inheemse gedoentes paniek kan veroorsaak nie. Soos die man van Bethlehem by Harrismith moes gaan afgee. Onderweg sien hy die ouvolk in die son sit, en kry een gevang. Dié word in die pakkie gesit en afgegee by ‘n onderneming met voorafgemekaakte geboue vir kantore.

Toe verlaat een van die werknenemers die kamer waar daar geen uitgang was nie. Of hy ooit die kamerverlaat betyds gehaal het weet Herrie nou nie. Dat iemand nou so vir doodgewone lelikheid kon skrik!

Herman Toerien