Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Elf tale baasgeraak

Met Afrikaans wat nou so noustrop trek, en die gereelde verweer (van die owerheid) dat elf amptelike tale nie prakties is nie (raai wie het daarop aangedring?) lees Herrie van ‘n jong Brit wat elf tale onder die knie het.

Nie soos net ‘n paar woorde ken nie, nee, hy praat hulle almal.

Nederlandse wel met ‘n effense aksent, sê die Nederlandse joernalis wat die onderhoud gevoer het. Maar Herrie het dit verwag, almal, tot die Nederlanders, praat Nederlands met ‘n aksent.

En ja, hy het ook Afrikaans gaan aanleer om te kyk hoe tale uitmekaar ontwikkel.

Maar is daar iemand wat regtig al elf Suid-Afrika se tale kan praat?

Herrie het al ‘n paar mense raakgeloop wat ‘n hele klomp bemeester het, soos die vrou, Rachel Sempe, wie se pa ‘n weeshuis in Soweto bedryf het. Sy het al die tale van die aankomelinge bemeester, want as ‘n kind wil speel, en taal is ‘n struikelblok, leer hy daai taal gou aan. Hoeveel tale die vrou kan praat is Herrie nie seker nie, maar volgens haar self is Afrikaans nou nie een van die tale nie – maar Herrie het haar al ‘n paar sinne van die skoonste taal vlot hoor praat.

Maar die mees taalvaardige mens wat Herrie nog raakgeloop het is Koba van Rooi. Sy was sekretaresse toe Herrie nog vir ‘n politieke party gewerk het, en haar vermoë om inbeller na inbeller in sy of haar eie taal te bedien was goud werd. Herrie meen sy het agt van die elf tale onder die knie gehad, die skoonste taal ingesluit.

Maar dis nie al nie, soos die advertensie lui. Eintlik is Koba ‘n Koranna, en sy het Koranna ook gaan aanleer. En as een van die Kaapse manne met ‘n dop of twee te veel onder die blad ingewaggel het, was Koba ook glad nie op haar bek geval om die man in die suiwerste en idioomryke Kaaps by die deur uit te help nie. Sy kon, want Koba is ‘n groot vrou.

Die pas afgestorwe oud-Vrystaatse premier, Winkie Direko, was self iemand wat ‘n span tale kon inspan. Self was sy ‘n Tswana, maar in ‘n oorwegend Suid-Sotho-Vrystaat. Herrie se mond het soms oopgehang as sy die idioomryke Afrikaans inspan.

Mev. Herrie is Suid-Sotho magtig, … die regte suiwer ene, en het by geleentheid as hoftolk afgelos. En was ‘n beskuldigde se gesig nie ‘n prentjie as ‘n beskuldigde vir die landdros beduie hy ken net Suid-Sotho, en die wit vrou tolk, en die landdros sê iets en die vrou praat die beskuldigde se taal soos hy self dit nie eens kan doen nie?

Dan het hoeveel ouerpare al vertel wat gebeur as ‘n Engelssprekende gesin by Afrikaanse bure gaan kuier. Geen probleem in die Oos-Vrystaat nie, die kinders speel ‘n hond uit ‘n bos uit in Suid-Sotho.

En Herrie? Herrie het tot einde standerd 8 in die Boland in gebly, en ken Kaaps taamlik goed. Die rooi taal bly ‘n uitdaging (dikwels omdat die gesprekgenoot op Engels aandring, maar dit so erg pleeg dat mens hom of haar nie kan verstaan nie), en het ‘n paar Xhosa-woorde opgedoen, soos “hamba!” as die buurt se honde die arme trekarbeider-melkman geskraap het. Van kleintyd af wel vakansies by ouma op die plaas buite Bloemfontein gekom, maar die Suid-Sotho wat Herrie daarvandaan onthou is daai soort wat maak dat ‘n man se mond met witblits uitgespoel word. Herrie onthou byvoorbeeld mooi wat die regte Sotho-woord is vir wat miesies Vên der Baail bedoel het toe sy vir die kinders in die agterplaas geskree het: “Children, come out of de afterjaard, joe wil trêmp in die houndestrount!” In die Afrikaans wat Herrie ken, is dit ‘n “besigheid” wat die hond gedoen het.

Danksy matriek-Duits kan Herrie vir ‘n Duitser wat voor hom inry mooi in Duits vertel hy is ‘n vuil Italianer. Min dinge maak ‘n Duitser kwater as daai ene.

Herman Toerien