Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Dikbek die nuwe jaar in

Dit sit nie in enige man se broek om met Pumba te gaan stap nie. Of moet ‘n mens eerder sê, dit stap nie in enigeen se broek nie?

Hoe dit ook al sy, so amper val Herrie die nuwe jaar hard binne.

Soos gebruiklik is Herrie vanoggend saam met Pumba na die keraats op die hoek om die Volksblad te gaan koop. Herrie doen die meeste leeswerk in die koerant, Pumba lees die “briefies” aan die bome se stamme, padpredikante se paaltjies en werp terselfdertyd ‘n skerp blik vir weggooibene en ander smulhappies wat sy oppik en verslind.

Herrie het al lankal geleer om van sekere oppervlaktes weg te bly, want Pumba is geneig om onverwags te storm, en is Herrie nie op ferme bodem nie, word ‘n man se pale maklik gelig. (En ja, na vele anti-Spock-opvoedingsessies gaan dit al veel beter).

Vanoggend was Pumba en Herrie al van die keraats af op pad huis toe, toe iemand met ‘n hond van agteraf aangedraf kom. Herrie sien hy moet behoorlik vervat aan Pumba se leiband kry, want Pumba is in daardie stadium reeds besig om agteruit aan die ketting met haar toonnaels diep vore in die sypaadjiegruis te krap. Pumba is nie die grootste boerboel wat op vier pote rondloop nie, maar elke kilogram is skynbaar spiere.

Die drawwer en sy hond skuur by Pumba verby, en Pumba se viertrek skop in net toe Herrie se aandag op die vervat van die leiband ingestel was. Die volgende oomblik tol Herrie en is Herrie op sleeptou en kakebeen eerste in die teer in. Die koerant min of meer ot niet, en boonop sopnat van ‘n rioolstroom wat lustig in onse buurt se hoofstraat se stormwatervoortjie afkabbel.

Toe Herrie oplaas regop kom, is daar geen spoor of teken van die drawwer en hond nie. Nee, Herrie dink darem nie Pumba het hulle verslind nie. Herrie vermoed eerder hulle het besef hulle moet hulle haastig uit die voete en pote maak. Gelukkig is Herrie se kakebeen nie af nie, net gekraak. Wat Herrie herinner hy moet tog in die nuwe jaar vir HAT se redaksie skryf om ‘n liederlike blaps reg te stel. Hulle noem ‘n mens se kakebeen ‘n bekkenbeen, en die bekkenbeen ‘n kakebeen.

Dis Herrie se kakebeen by Herrie se bek wat gekraak is.

En ja, dis nie lekker om Weetbix vir ontbyt te drink nie.

Dus gaan Herrie die nuwe jaar met ‘n klomp rowe op die gesig binne, en dis nie eens ‘n oujaarsaandpartytjie in die Willeboer se skuld nie.

Nou moet Herrie bieg, Pumba wat die verbydrawwende hond so probeer bymekaar maak het, was ‘n heel ander dierasie as die aan wat gisteraand, toe iemand iewers ‘n klapper geskiet het, bewend op Herrie se skoot probeer klim het terwyl Herrie voor die rekenaar gesit en werk het. ‘n Lang toonnael het in Herrie se bobeen ingeslaan…

Dus, saam met ‘n “prosedure” op die rug wat nog aan die herstel is, gaan Herrie nou die nuwe jaar taamlik “geroof” in. Van die kakebeen se swelling is Herrie boonop taamlik letterlik dikbek ook.

Ja, Herrie is nie al een wat op die vooraand van oujaarsdag ‘n vallende ervaring gehad het nie. Die Russe het ‘n satelliet probeer lanseer, maar vir die soveelste keer het iets verkeerd geloop, en het die satelliet ‘n dorpie in Siberië getref.

Die huis wat raakgeval is staan in ‘n straat met die naam Kosmonautstraat…

Herman Toerien