Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Die wakkerklapper

Nou die dag kom Herrie op ‘n blog af wat gewy word aan Afrikaans en die saak vir Afrikaans. Die blogmeester voel driftig oor Afrikaans, baie driftig.

Maar ‘n groot hartseerte oorval vir Herrie. Die man kan nie Afrikaans skryf nie. Alles wat vas geskryf moet word, is los geskryf, en in die proses van miskenning, meen hy “lei” Afrikaans ‘n groot swaarte.

Omtrent soos die Afrikaanse skool wat so roem op sy groot Afrikaansheid, maar neffens die skoolhoof se kantoor is die muurplaat wat aandui dis die skool se “rekenaar kamer.” Dieselfde skoolhoof wat so baie taalblapse in sy nuusbrief aan die ouers maak dat Herrie net ‘n paar sinne ver gelees kry.

En net soos ‘n mens dink Afrikaans buig die knie met uitdrukkings soos “parte” wat bestel is, die “skool gronde” in plaas van skoolterrein, en die kar se “starter” wat lol, dan kom iemand met ‘n pragtige stukkie Afrikaans.

Een van die mooistes is vir Herrie daai een van die rekenaar se “reminder”-funksie – die elektroniese dagboek. “Elektroniese dagboek” gaan uiteraard nie die pyp rook nie – te lank en te pretensieus. Nee, die woord wat werk is die wakkerklapper.

Met Herrie wat al meer grys hare kry, sal Herrie wat nog nooit ‘n dagboek gebruik het nie, duidelik ook nou sy wakkerklapper moet begin inspan. Herrie lê naamlik ‘n paar kerke se nuusbriewe uit. Een is die Herries se eie gemeente s’n, en hier verkoop die Woensdagoggendbybelstudiegroep elke eerste Sondag van die maand na die oggenddiens koek en poeding. Of soos van die kansel af gesê word, nagereg.

Maar daai dames, ekskuus susters, mág maar bak. Want hulle kán. Komende Sondag is dit weer lippe-afleksondag. En Herrie loop vergeet om dit in dié Sondag se nuusbrief te sê. ‘n Wakkerklapper is dus die voorland.

Ja, Herrie het een keer by ‘n Afrikaanstalige dagblad se kafeteria ‘n geroosterde kaas- en hamtoebroodjie by die Afrikaanssprekende dame probeer bestel. Eers toe Herrie sy bestelling in die gebruiklike “toasted cheese and ham” herhaal, het die liggies aangegaan en het Herrie sy order, ekskuus, bestelling, gekry.

Een van die redes hoekom Herrie wyd hou van Boerekos, is dat Herrie g’n pampoen eet nie. Amper soos oorle’ Ouma Lita wat gedooi het oor tee maar nie koffie kon veel nie, jare terug vir haar jongste se speelmaatjie gevra het of hy tee wil hê? Duidelik nie: “Ek vreet g’n tee!”

Herrie vreet g’n pampoen. Ter versagting, Herrie vreet, ekskuus, eet kool, spinasie, beet, patats, broccoli… en kleintyd selfs rou slakke wat Herrie van die Bakke se kothuis se mure afgetrek het met doppe en al geëet. So verneem Herrie want Herrie kan dit (gelukkig) nie onthou nie.

In die ou dae toe ‘n mens nog in die parlement se restourant ‘n Afrikaanse spyskaart kon kry, eet Herrie saam met ‘n adjunkminister. Op die spyskaart staan: “pannekoek.” Dis vir Herrie vreemd dat dit by die hoofgereg is, maar Herrie bestel. Maar dis g’n pannekoek nie, dis pampoenpoffertjies.

Dis nou al ‘n hele ruk dat Herrie nie meer speserye in die kos gebruik as Herrie kos maak nie. Want daar is nou nog net Engelse name op, en Herrie het nie kans gehad om eers te leer wat die Engels is voor die Afrikaans verdwyn het nie. Een soutgereg wat die ene kaneel geruik het toe Herrie gedink het “cinemon” is ‘n paslike spesery was die laaste spyker in die doodskis. Herrie lees nie eens ‘n resepteboek as hy kosmaak nie, laat staan nog ‘n woordeboek.

Ja, daai een wat besluit het om die Afrikaans af te haal kort ‘n behoorlike Boere-wakkerklapper. ‘n Sn&t-ene!

Koos is gelukkig. Sy knormoer maak die kos.

Maar laat Herrie liefs afsluit voor sy mond met witblits uitgespoel word. Dan smaak alle kos na teer.

Herman Toerien