Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Die Vadersdaggeskenk

Groot Herrie se gesig is lank. Nie oor dit vadersdag is nie, maar hy en sy vriendin het ‘n uitval gehad. Die aand voor vadersdag. Hy praat nie, dus weet ons ook nie of dit nou sy gewese vriendin is nie.

Dis Herrie self wat met ‘n ongemaklikheid sit.

‘n Paar dae gelede het die vriendin vir Herrie ‘n vadersdaggeskenk gebring. ‘n Heerlike sjokolodadekoekie in die mooiste houer.

Nou? Gaan probeer nou daai koekie eet terwyl die kinders se harte so flenters is? Miskien moet die koekie maar aan Klein Herrie bemaak word. Hy weet van die hele hartseer niks.

Dit tref Herrie hoe gelukkig Suid-Afrikaanse jongmense het wat goeie pa’s tuis het. Volgens ‘n opname het net 55 % van Suid-Afrikaanse tieners tussen die ouderdomme van 12 en 19 beide ouers tuis, En nie al hierdie ouers is aanwinste nie.

Of, die pa wil so graag soos hy wil ‘n goeie pa wees, maar kan om de dood nie werk kry om vir sy gesin te sorg nie.

Amerikaanse navorsers wys daarop dat Amerikaanse pa’s uit die klasse met hoër opvoedkundige vlakke meer betrokke by hul gesinne is as ‘n geslag tevore, maar onder die klasse met laer opvoedkundige vlakke gebeur die teenoorgestelde. Trouens, daar is die pa’s minder teenwoordig.

Die verskil word al hoe groter. Aan die een kant raak pa’s al hoe meer betrokke by hul kinders, aan die ander kant woon bykans ‘n kwart van die kinders jonger as 18 se pa’s nie meer by die gesin nie.

So strak is die onderskeid dat die Pew Research daarna as die “tale of two fathers” verwys.

Uit Nederland blyk nog ‘n interessantheid – jong pa’s wat graag betrokke wil wees, maar nie weet hoe nie. Leesstof vir voornemende en jong moeders is daar volop, van tydskrifte tot boeke. Maar pa’s, so lyk dit, moet as’t ware die pad met moedersinstink vind.

Ja, iemand het wel die briljante idee gekry om ‘n boek te skryf, en dis pas bygewerk en heruitgereik. Hy het op sy beurt sy inligting uit die Bybel gaan kry ….

Herman Toerien