Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Die sielkunde van die ontkenner

Dié week verskyn ‘n brief in Volksblad waarin ‘n ontkenner nie net heftig dinge soos klimaatsverwarming ontken nie, maar sommer reguit skryf oor hoe kwaad hierdie “leuens” hom maak.

Dié persoon staan nie alleen nie. Daar is allerlei soorte ontkenners, soos diegene wat ontken dat Vigs vir Vigs verantwoordelik is, dat outisme die afgelope twee dekades skerp toegeneem het, dat die heelal uitdy, en vele meer.

Ironies, terwyl hierdie mense so rotsvas ontken, glo hulle dikwels net so sterk in sekere mites, veral samesweringsteorieë. Hulle kom dikwels onder die kleed van godsdiens, maar skiet in styl ver tekort by die voorbeeld wat deur Jesus gestel is.

Daar is, trouens, nou reeds boeke geskryf waarin die ontkenners se mites aan die kaak gestel word. Heelwat hiervan, soos Climate change denial deur Haydon Washington en John Cook, bespreek die miskonsepte aan die hand van feite. Die subtitel lees: “Heads in the sand.”

Ander probeer ‘n sielkundige verklaring met hierdie beheptheid met ontkennings vind, en vergelyk dit soos verwag kan word met die sielkunde onderliggend aan diegene wat onder samesweringsteorieë aangetref word.

Dis ‘n hartseer saak – vriendskappe gaan tot niet, en Herrie weet selfs van ‘n huwelik wat ‘n knou weg gekry het weens die man se oudag-paranoia. Kollegas praat lank nie met mekaar nie. Elkeen is vasbeslote dat hy reg moet wees.

Politici is waarskynlik die grootste ontekkenners van alle tye. Met slegs ‘n handjievol van die land se rioolnetwerke behoorlik in bedryf, sal die minister sê daar is geen probleem nie.

Die Ouditeur-generaal-verslae is in die meeste mense se boeke oorwegend skrikwekkend sleg, maar die regering meen tot onlangs die paniek word oordryf.

Maar wag, Herrie moet klaar skryf. Netnou kom haal vriend Briksta vir Herrie. Hy is van die Planteet X. Herrie het nou al meer as ‘n week ‘n sleg siek bas, en hy meen ‘n bietjie uitspan by die See van Kalmte se oord op die maan sal Herrie die maan se goed doen.

Herman Toerien

One Response to Herrie se kerrie: Die sielkunde van die ontkenner

  1. knorpatat

    Junie 12, 2011 at 1:25 pm

    Herrie jy lei aan wat ons noem appelkoosmaag. Kerrie is geneig om slag skoon te brand. Dit sluit die ekzos en sy donnerbeie in. Koel af met yskas water, dit help. Ns. Ek hoop julle rioolwerke is so goed soos dit voor 1994 was. Altyd sleg as dit terugborrel wat jy nou net probeer wegspoel het. Groente.