Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Die leespreek

Dis soos nou die dag dat Groot Herrie hoërskool toe is. Met nr 12-skoene, en Herrie wat reg was vir baklei as die skoolhoof sou moeilik raak oor dit nie skoolskoene was nie. Intussen het boerematriek, matriek, die landbougraad en ouderlingskap gekom, en nou ‘n leespreek. Alles darem steeds met nr. 12’s.
Herrie en Mev. Herrie is belet om die aanddiens en dus die leespreek by te woon, en hoe nader die oomblik van waarheid gekom het, hoe duideliker was dit dat die senuwees maar knaag.
Herrie self het jare gelede ‘n leespreek moes lewer – by die gemeente Pahameng. Groot Herrie is gelukkig, die predikant het vir hom ‘n preek spesiaal vir die geleentheid uitgewerk. Herrie is destyds ‘n yslike dik boek van preke in die hand gestop. Daardie preke, deur professore opgestel, was die room van hoë Afrikaanse dogmatiek. Leespreke se tradisie, soos oorgeërf van Nederland, is dat die mees akademiese en ingewikkelde preke as “leespreke” verewig word. Gaan kyk maar self op die internet.
Uit daai yslike dik boek was een preek bruikbaar, en Herrie het hard gewerk om dit makliker te maak, toelaatbaar of nie, kortpaaie te vat, en plek-plek het Mev. Herrie vir Herrie die Sotho gegee en die uitspraak laat inoefen. Na die preek het die ouderlinge Herrie net woes ge-Marurti, maak nie saak hoe Herrie gekeer het nie. Maar Herrie is ook nooit weer gevra nie.
Maar Herrie het darem beter gevaar as die arme ouderling wat een oggend in die konsistorie moes hoor die dominee het skielik siek geword, en toe was die sendeling reeds vort van ‘n buitepos.
Die kerkraad het kortliks beraadslaag oor wie die werkie sal kry, en daar is eers gekyk na die manne wat gewoond is om voor groepe te praat. Die prokureur, maar te veel het gevoel hy is geneig om kluitjies in die hof te bak. Die onnie, maar dié ou was beneuk en al die skoolkinders sou dalk uitstap.
Uiteindelik val die joppie op ‘n omie wie se seun ‘n predikant iewers is.
‘n Diaken sien die omie se benoudheid, glip uit en gaan haal ‘n flessie uit sy kar en dokter skelmpies die waterkraffie en glas water op die preekstoel.
Toe die omie die eerste sluk water vat, sien die diaken die omie se oë rek, maar daarna word kort-kort ‘n sluk gevat.
Naderhand is die omie so op dreef, hy maak sy eie preek so ver soos hy gaan. Dis ‘n woeste gebeduie van die kansel af, en ‘n fluisterstem word heel goed met ‘n bulderende stem afgewissel. Toe hy “amen” sê kry hy ‘n staande ovasie. Hy word net woes gelukgewens, maar toe almal weg is skuifel ‘n ou omie nader: “Boet, jy het goed gepreek, maar die leeus is nie saam met Daniël in die oond gegooi nie, en Salomo het nie veertig dae en veertig nagte agter die koningin van Skeba aangehardloop en toe met sy hare aan ‘n doringboom bly hang nie…”
Met ‘n ander leespreek jare gelde was daar nie ‘n hulpvaardige diaken byderhand nie, en met die Skriflesing lees die arme man: “En Moses klomp op de berg…” en toe hy omblaai, vat hy van verbouereerdheid twee bladsye, en sien dit vervolg: “…en hy vloog weg.”
Hy blaai terug, en begin weer lees: “En Moses klomp op de berg…” maar toe hy omblaai, staan dieselfde daar. ‘n Derde keer val hy weg: “En Moses klomp op de berg, en hy vloog waaragtig weg.”
Maar liewer ‘n leespreek as die geval waar die dominee letterlik besluit het hy gaan vasknyp. Maar op pad kansel toe, kan dit nie anders nie, die dominee vloog om (ander soort vloog as wat Moses vermag het), maar die gerief se deur is gesluit, en tyd om die koster te gaan uitskud is daar nie. Agter die konsistorie is ‘n lappie lang rooisaadgras, en die dominee sak daarin weg.
Intussen word maar liedere opgegee en elke nou en dan gaan kyk ‘n diaken of die dominee al in aantog is, maar elk keer beduie ‘n wuiwende hand die singery moet maar solank volgehou word.
Herman Toerien