Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Die kat in die sak

Namate die Herries se woonbuurt toegebou geraak het, het die natuur ook grootliks teruggetrek. Dis jare dat daar laas tarentale of hase in die Herries se erf kom skoffel het. En die haas wat gereeld by vriende van die Herries se kat kom kuier het en, by wyse van spreke, ‘n hond uit ‘n bos gespeel het.

Nou kom hier nog hadidas in die erf en maak Pumba vreeslik ontsteld. Een oggend lê Herrie nog in die katelkooi en sien hoe ‘n dassie al op die ringmuur langs kom en verbysuiker. Eendag het Herrie op die leer geklim om te kyk watter olifant of ding rinkink so donderend op die sinkdak, en toe Herrie se kop oor die kant loer, skrik ta hom boeglam en laat spat na die oorhangende vyeboomtakke en is vort – waarskynlik iemand se mak aap.

Die Herries se huis huisves drie pare swaeltjies – waarvan twee omgekeerde iglo-nessies gemaak het, en die swaeltjies gereeld voor die vensters sit en borrelende musiek maak. Die een nessie se tuit het afgebreek, en Groot Herrie, wat lekker lank is, moes die kleintjie gereeld terug in die nes druk, tot dit weer bietjie gereën en die ouers die tuit herbou het.

Die swaeltjies by die voordeur het drie jaar lank die tuit langer gebou, sodat die uitgang nou reg bokant die middel van die voordeur is. En daai nes se kleintjies is nou op die ouderdom waar die ouers hulle geleer het om met hul agterent by die tuit uit hul besigheid buite te doen. Op die stoep voor die Herries se voordeur.

Nou is die wildste ding op die Herries se erf die vrugtevlieë wat elke jaar al erger word. En natuurlik die raakskiete.

Vriende van die Herries woon egter teenaan die veldjie, en hulle het ‘n onaangename kuiergas gekry … ‘n yslike geelslang. Die slangvanger is laat kom en ta is weg, maar nie sonder dat hy ‘n deeglike vertoning ingesit het om te wys dis eintlik sy nuwe blyplek dié nie.

Maar dis toe hulle grootoog vertel hoe die slang aangekeer is, dat Herrie se oog toevallig op MaroelaMedia val waar hulle verduidelik waar die spreekwoord: ‘n Kat in die sak, vandaan kom.

Die Herries se laaste kat is onlangs op bejaarde ouderdom onder operasie dood … of oorlede soos die hartseer veearts gebel het om te sê. Daardie kat het sy voorganger opgevolg, ‘n baster wildekat wat self baie oud geword het, maar ook tot die einde nog gereeld met ‘n yslike rot in die bek opgedaag het van omswerwinge waarvan Herrie verkies om nie die besonderhede te weet nie.

Oor die jare het die goewerment gereeld gelas al die troeteldiere in die woongebied na die boeremark gebring moet word vir hondsdolheidsinspuitings. En hulle, met respekte, het net mooi niks van troeteldiere geweet nie. “Plaas u kat in ‘n lemoensakkie” lui die terloopse instruksie. Want sien, die kat mag dalk half teë wees op daai inspuiting.

Maar die Herries het nog nooit ‘n kat besit, of ken niemand wat so ‘n kat besit het, wat ‘n mens sommer so in ‘n lemoensakkie geprop kry nie. Trouens, dit vorder nie eens tot by die snorbaarde nie.

Daar is ‘n lang storie in omloop oor hoe om ‘n kat ‘n pil te probeer injaag. Min of meer kom dit daarop neer die baas beland by noodgevalle vir baie, baie steke, en die kat se pil sit agter die baas se ooglid.

En Herrie is oortuig dis baie makliker om ‘n kat ‘n pil in te jaag as om daai einste kat in ‘n sak in te kry. Nee, as Herrie weer moet kies, sit Herrie veel liewer die een boosaardige slang na die ander in ‘n sak as om die fraaiste kietsie in ‘n sak te probeer kry.

Die laaste trippie vir daai inspuitings was omtrent so ‘n affêre soos slangvang. Die kat, in ‘n spesiale mandjie wat Groot Herrie goedgunstig by die veearts gaan leen het en Snoetie die baster-skippertje op mev. Herrie se skoot (die enigste lid van die huishouding wat selfs net in die rigting van die hondjie mag gekyk het, laat staan nog vashou vir ‘n inspuiting, is saam met die bakkie vort. Groot Herrie het met Pumba aan die leiketting te voet daar aangebring. Die persoon wat Pumba in ‘n ding met wiele kan inkry bestaan net so min as een wat ‘n kat in ‘n lemoensak kan kry.

Nou is nog net Pumba oor … dieselfde dierasie wat Herrie aan haar ketting in die straat platgetrek het agter ‘n ander brak aan (dis hoekom Herrie nog nie onlangs iets snaaks geskryf het nie – die gekraakte wangbeen en kakebeen en af ribbetjie maak dit nog te seer om te lag), wat saans bewend op die katelkooi klim as iemand iewers ‘n klapper geskiet het.