Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Die Herrie-Kammagewildheidspryse

Herrie sien dis eer tyd vir die Herrie-Kannagewildheidspryse. Van daai gewildheidspryse weet Herrie niks – iemand misbruik sy naam. Maar ter wille van skadebeheer ken Herrie dan maar self gewildheidspryse toe, die Herrie-Kammagewildheidspryse.
Herrie verstaan dis so ‘n groot kopkrap om gewildheidspryse toe te ken. Daar is altyd iemand wat willebooslik kwaad is oor ‘n ander die prys kry nie – nie soseer oor iemand Jantjie is nie, maar oor hy / sy van die een wat gewen het se skeletors in die kas weet.
Maar, sien Herrie, pres. Jacob Zuma sal heel skaflik vaar, veral onder vroue. Volgens die jongste peiling meen 50 persent van die vroue Zuma is oulik, maar net 48 persent van die mans het hul vroue se toestemming om te sê hulle meen Zuma is kaas.
Nou wonder Herrie – beteken dit as die prez nog so ‘n paar vroue byvat, dat sy gewildheid onder die vroue nog verder gaan styg?
Nog iemand wat vir die Herrie-Kammagewildheidsprys in aanmerking kom, is Julius Malema. Herrie verstaan sy gewildheid staan baie hoog onder die land se toekomstige swart babas. Boonop het die Prez hom al tot kroonprins verklaar, en is sulke geliefde karakters soos Hugo Chavez, Castro, Mugabe en Ghaddafi so erg oor hom. Die briefie van Noord-Korea af om ‘n stem vir Malema uit te bring het glo in die pos weggeraak.
Ghaddafi is self natuurlik ‘n uiters gewilde karakter. Dis darem nie aldag dat die VN en ‘n klomp lande so agter jou aan is nie. En so ongelukkig is dié mense as hulle Ghaddafi nie kry nie, dan blaas hulle die plek op.
Herrie kry juis ‘n SMS: “If you are a golfer, how do I get out of this bunker? Muammar. “
Wel, Herrie se advies was: Moenie uit die bunker kom en vir die VN-magte se vliegtuie ‘n “moonshine” gooi nie. Van daai geleide missiele kan vreeslik akkuraat skiet, en dit kan net dalk ‘n kolskoot wees.
Maar Herrie dwaal net so erg soos sy gholfballe destyds langs die Mooirivier af. Herrie het nog nooit so iets gesien nie. Slaan die bôlletjie heel weg van die rivier af, maar doer bo gaan maak hy ‘n wydloper en trek reguit rivier toe.
Patricia self was op menseregtedag baie gewild. Sy het amper-amper ‘n spreekbeurt op Menseregtedag gekry. As die Prez net stem dikgemaak het en sy onbeskofte ondersteuners stilgemaak het, dan sou Patricia kon praat. Dis darem vordering van destyds toe Zuma en Malema die hoofsprekers op die staat se amptelike jeugdagvieringe was. Al was Zuma toe niks anders as die ANC se leier nie, en Malema net die doekebrigade se koliekskreër. Maar dit was amptelik, het die regering geskerm – opposisiepartye is ook genooi om die verrigtinge te kom bywoon.
Oor wat om met die Cheetahs te maak, weet Herrie nie so mooi nie. Hulle het gewen. Hulle is gewild, nie kamma-gewild nie. Maar oor ‘n week lyk sake dalk heel anders. Herrie hoop nie so nie, want die Herrie-Kammagewildheidsprys is nie bedoel om ‘n wisseltrofee te wees nie.