Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Die Gaugautrei

By geleentheid, by ‘n landboukongres, praat die manne en vra so onder mekaar hoe hulle by die kongres gekom het. ‘n Paar manne se antwoord: “Ek het sommer met die Boeing deurgekom.”

So asof daar ‘n klomp boere is wat ‘n Boeing in hul stoor aanhou.

Die afgelope week was Herrie gou vir ‘n heen een weertjie Pretoria toe. Tot in Johannesburg luglangs al was dit nou nie met ‘n Boeing nie – trouens nie eens iets met straalmotore nie, maar van daar tot in Centurion met die Gautrein, en weer terug lughawe toe met daai einste trein.

Hoe beskryf ‘n mens die ervaring? Dis baie soos treinry, net baie anders. Die eerste sensasie is seepglad. Niks ‘n gestoom wat blaas nie, die trein het die tsjoef, tsjoef ingesluk, die gefluit is weg, en so ook die klik, klik soos wat die troepe die mindaetrein so goed kon namaak.

Trouens, Herrie het ‘n lang ent langs die spoor geloop om die lasse te soek, maar niks gekry nie. Hoe daai spore uitsit en krimp met temperatuur sal Herrie nog maar moet gaan oplees.

En as iemand dink hy gaan die sensasie van spoed hê, is hy op die verkeerde trein. Herrie het al begin dink die treinspoor ondergaan onderhoud dat die trein so rustig ry, toe let Herrie op hoe die trein met groot gemak die blink vuurwaens op die snelweg langsaan van agter inhaal en agterlaat. En daai vuurwaens, kan ‘n mens sien, wikkel.

Nou verstaan Herrie hoekom ‘n paar LUR’s al aangekondig het die Vrystaat kry ook sulke treine. Dink net – om in ‘n japtrap van een kant van die provinsie na die anderkant te kan beweeg, sonder tolhekke, slaggate, onpadwaardige taxi’s, stropers wat in die besigste verkeer van plaas tot plaas versit of stop-rybehere.

Herrie kan aan ‘n paar asemrowende roetes dink wat die toeriste by die tonne sal trek, soos deur Golden Gate.

In een van die M.A.S.H.-boeke word vertel hoe ‘n entrepreneur toeriste vir sy vliegtuiguitstappies gekry het. Hy het die roete oor ‘n eiland laat gaan, waar hy ‘n paartjie gehuur het om as hulle die vliegtuig sien kom, in hul geboortepakkies weg te hardloop. Kort voor lank het hy ‘n reuse waglys van mense wat wil gaan vlieg.

Dink nou net, as ‘n mens nou ‘n paar sonbaaiers by Sandsloepie langs die Asrivier kan inspan en die roete van die Riemlandblitz daar verby beplan. Daai trein gaan homself in ‘n japtrap betaal. Maar toe onthou Herrie van die kanoroeiers, en besef die eietydse Lorelaais gaan maak dat die manne hul kano’s teen die volgende rotswand te pletter sal laat vaar.

Intussen moet Herrie maar rustig wag dat die Gautrein se roete ook die beskawing begin bereik….

Herman Toerien